13 dae gelede
Groot geld op die spel
KAMPIOENE: Die Springbokke vier laas jaar hul Rugby Championship-sege.  ~ Getty Images

DIE feit dat die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (SA Rugby) ’n groter deel van sy TV-uitsaairegte se inkomste aan unies en franchises moet betaal, kan straks daartoe lei dat die Springbokke in die Rugby Championship moet speel.

Voor gister se aankondiging deur SA Rugby dat hy vir 48 uur kans gevra het vir ’n besluit oor die Bokke se deelname, was dit as ’n uitgemaakte saak beskou dat dié wêreldkampioene sou tuisbly.

Suid-Afrika is veronderstel om op 7 November in sy eerste wedstryd van dié vierhoekige kompetisie teen Argentinië te speel.

SA Rugby het gister in ’n verklaring gesê: “Sanzaar (beheerliggaam) het gisteraand ná ’n telefoniese konferensie van uitvoerende hoofde aangekondig die lid-unies het ingestem om SA Rugby ’n bykomende 48 uur te gee om die finalisering van sy gesprekke oor deelname met interne belanghebbendes af te handel.

Opvolg

“Hierdie besluit sal nou die vertrek van die Springbokke uit Suid-Afrika na Australië vertraag.

“Sanzaar het gesê hy sal binne die komende dae ’n opvolg oor die resolusies in die besprekings verskaf, sowel as ’n tydrooster vir die Springbokke se deelname aan die Rugby Championship.”

Son het gister op sy webwerf die nuus gebreek dat SA Rugby ’n verlies van R118 miljoen in TV-uitsaairegte kan ly as die Springbokke nie aan die Rugby Championship deelneem nie.

Dit is onbekend hoeveel geld SA Rugby uit TV-uitsaairegte genereer vir die aanbied van plaaslike kompetisies (Superrugby Unlocked en die Curriebeker-reeks).

Die R118 miljoen vir deelname aan dié vierhoekige kompetisie sal die beheerliggaam help om sy beloftes aan veral kleiner unies aan hom verbonde na te kom.

Daar is verlede maand op ’n SA Rugby-vergadering besluit dat kleiner unies (Boland, Grens, Griffons, Leopards, Suidwestelike Distrikte en Valke) elke R12,4 miljoen uit TV-uitsaairegte sal ontvang.

Die Cheetahs, Griekwas, Oostelike Provinsie en Pumas (wat as franchise-unies beskou word) sal elk R19,4 miljoen ontvang.

Implikasies

Die groot vier (die Bulls, Cheetahs, Lions, Sharks en Stormers) sal na bewering R47,4 miljoen ontvang.

Daar is dus vir rugbyredes ’n goeie saak waarom die Bokke nie moet speel nie.

Tog blyk dit dat die geldelike implikasies vir SA Rugby se voortbestaan dalk môre tot ’n besluit sal lei dat die Bokke wel gaan speel.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters