7 dae gelede
Groentjies kry kans
Tristan Leyds  ~ Gallo Images

DIE Stormers sal Saterdag ’n nuwe era afskop deur ’n B-span teen die Cheetahs in hul nuwe tuiste in die Cape Town Stadium in te span.

Dié stadion sal voortaan die tuiste vir die Stormers en Westelike Provinsie wees.

In die toekoms sal alle tuiswedstryde van die Westelike Provinsie Rugby se professionele spanne in die Cape Town Stadium gehou word.

John Dobson, hoofafrigter van die Stormers, het gister in ’n verklaring gesê sy groep het reeds vanjaar gereeld in die Cape Town Stadium geoefen.

Hulle sien daarna uit om dit hul tuiste te maak.

“Dis vir ons ’n voorreg om in ’n stadion van wêreld­gehalte te speel en te oefen. Die spelers is baie vertroud met die plek.

“Ons kan nie wag dat die fans hulle by ons nuwe tuiste kan aansluit sodat ons die stadion vol passievolle ondersteuners kan sien nie,” het hy gesê.

Dobson het besluit om sy jonger spelers ’n kans teen die besoekers van Bloemfontein te gee, sodat hulle kan wys waartoe hulle in staat is.

’n Speler soos Tristan Leyds, jonger broer van die Springbok Dillyn Leyds, gaan die laaste vesting beman.

Dié 23-jarige het laas jaar in net een game vir die Streeptruie uitgedraf. Hy gaan dus sy debuut vir die Stormers maak.

Dobson gaan ook na verwagting die talentvolle jong losskakel Kade Wolhuter in die nr. 10-trui inspan. Dié 19-jarige het laas jaar sy debuut vir die Stormers in die sesde ronde van die Superrugby Unlocked-reeks teen die Cheetahs gemaak.

Staal

Godlen Masimla of Paul de Wet sal die nr. 9-trui dra. Michal Haznar gaan ook kans in die middelveld kry.

Voorlangs gaan ál die jongelinge ook ’n geleentheid kry om hul staal teen die Vrystaters te wys.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters