14 dae gelede
’Groentjie’ troef SA ster
UITOORLÊ: Moruti Mthalane stap na sy hoek tussen rondes.  ~ Reuters

EN DAAR gee die laitie die oom ’n snotklap!

Moruti Mthalane se nederlaag Vrydagaand in Londen teen die Brit Sunny Edwards word as ’n massiewe skok en ’n yslike teleurstelling beskryf.

Die Suid-Afrikaner het met drie keer meer ervaring as die betreklik groen Edwards in die kryt geklim, maar moes op die ou einde met ’n puntenederlaag sy IBF-vlieggewigtitel prysgee.

Die nederlaag sal as ’n groot verrassing kom vir Mthalane, wat 13 jaar onoorwonne was.

Die vorige keer dat hy as verloorder uit ’n kryt geklim het, was op 1 November 2008 in Las Vegas toe hy met ’n TKO teen die Filippyn Nonito Donaire verloor het.

Meesterlik

Edwards het beïndruk en luidens die beoordelaars se telkaarte met 118-111, 120-108 en 115-113 gewen.

Die promotor Frank Warren het Edwards geprys en sy vertoning as “meesterlik” beskryf.

Hy het aan Reuters gesê: “Die great Floyd Mayweather, wat daaraan geglo het om te slaan en nie raak geslaan te word nie sou dié great performance waardeer het.”

Vir Mthalane se afrigter, Colin Nathan, is dit die tweede bloedneus in ’n week. Hy het voor die geveg voorspel dat Mthalane te sterk vir Edwards sou wees en dat ’n sege net ’n formaliteit sou wees.

En die vorige naweek is sy bokser Khanyile Bulana teen Michael Magnesi in Italië om die IBO se junior-liggewigtitel op omstrede wyse in die eerste ronde uitgetel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters