6 dae gelede
Griekwas wil maak soos in 1970
GEORGE WHITEHEADFoto: GALLO IMAGES  ~ 

DIE Griekwas is op koers om die Curriebeker die eerste keer in 49 jaar te wen.

Die laaste keer dat die Poubloues die beker omhoog gehou het, was in 1970 toe hulle die magtige Noord-Transvaal in Kimberley met 11-9 in die De Beers Stadion verras het.

Noord-Transvaal was gelaai met Springbokke en moes net by die veld opdaag om op ’n drafstap teen die sogenaamde “kleintjie” te wen.

Dié sege het skokgolwe deur SA rugby gestuur.

Die Poubloues deel tans die eerste plek op die punteleer met die Leeus.

Hulle speel in die laaste twee wedstryde tuis voordat die uitspeelrondes aanbreek.

Hulle speel Vrydag teen die WP voordat hulle hul liga­bepalings teen die Leeus afsluit.

Die Griekwas word dalk vanjaar net so min kans gebied om die Curriebeker te wen as in 1970, maar die ander aanspraakmakers kan dalk net weer wreed ontnugter word.

Oorlog

Die afrigter, Brent Janse van Rensburg, is ’n uitgeslape breier wat stof in goud kan laat verander.

Dan het die span se losskakel en kaptein, George Whitehead, ook volwassenheid in die Griekwa-trui bereik.

Hy is nou ’n generaal wat sake koel en berekend benader. Die WP kan hom dus vetsmeer vir ’n “oorlog”.

WP-spanne het deur die jare gesukkel én slae gekry in Kimberley. Daarom kan Vrydag se wedstryd deurslaggewend vir albei spanne wees.

Griekwas het die Currie­beker ook in 1899 en 1911 gewen.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters