18 dae gelede
Goud wink in aflos
SLIM BIENE! Akani Simbine hoop om die nasionale 4x100 m-aflosspan Sondag op die Wêreldbyeenkoms tot glorie te help.  ~ Reg Caldecott

DIE nasionale 4x100 m- aflosspan het ’n baie goeie kans om ’n goue medalje op Sondag se Wêreld­byeenkoms in Silesië in Pole te wen.

Amerika en Jamaika het vandeesweek aangekondig dat hulle nie meer gaan meeding nie.

Sedert dié kampioenskapsbyeenkoms vir aflos in 2014 ontstaan het, het Amerika twee keer goud in die 4x100 m vir mans gewen. Jamaika was een keer aan die wenkant en Brasilië het in 2019 met die louere weggestap.

Te oordeel aan die statistieke behoort Brittanje Sondag beslis ’n kandidaat te wees om ’n medalje te wen.

Die Britse span is die een wat deurgaans vinniger as 38 sekondes gehardloop het. In 2017 (met 37,47 sek.) en 2018 (37,61) was hulle die vinnigste span in die wêreld.

In die 2019-seisoen was Amerika vinniger, met 37,10 sekondes, terwyl die Britte 37,36 genael het.

Beste

Vanjaar was die span van China tot dusver die vinnigste. In Maart het hulle 38,23 sek. gehardloop. Man vir man is die Suid-Afrikaners egter vinniger.

Akani Simbine het laas week op die SA byeenkoms in Pretoria amptelik 9,99 sek. geklok en ook in die uitdunne ’n tyd van 9,82 sek. met die hulp van die wind afgeblits.

Gift Leotlela se beste tyd van die seisoen is 10,16, terwyl hy ook laas week 9,94 met die hulp van die wind gehol het.

Thando Dlodlo het 10,21 gehardloop. Luxolo Adams se beste tyd tot dusver is 10,07.

Die SA aflosspan het in 2019 ’n tyd van 37,65 (’n Afrika-rekord) in die uitdun opgestel en in die eindronde 37,73 gehardloop.

Die span het dus die vermoë om onder 38 sekondes te hardloop.

Paul Gorries, Suid-Afrika se nasionale aflosspan-afrigter, sal die finale besluit oor die samestelling van die span neem.

Adams of Emile Erasmus kan ook as opsies in die uitdunne ingespan word.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters