13 dae gelede
Goeie begin gesoek
OP DREEF: Christopher Hollis op die aanval vir die Madibaz.  ~ Gallo Images

DIE Madibaz soek vandag in die Madibaz Stadion die perfekte begin vir hulle 2020 Varsity Shield-veldtog.

Hulle pak die UKZN Impi in ’n herhaling van verlede seisoen se halfeindronde.

Dié wedstryd skop 19:00 af.

Die Madibaz wil ook op die voorvoet begin om ver­lede jaar se hartverskeurende nederlaag in die eindstryd teen die Cape Peninsula University of Technology (CPUT) te probeer vergeet.

Hulle was onoorwonne in die seisoen en het net in die eindstryd teen CPUT in die heel laaste minuut met 28-32 vasgeval.

Die Madibaz se breier, Jarryd Buys, het die seisoen voorberei om te bou op die diepte van sy span.

Buys sê hulle wil nes ver­lede jaar ook seker maak dat hulle met die meeste punte op die log eindig.

Dis nadat die reëls vir promosie tot die Varsity Cup verander is. Die puntestand van die 2019- en die 2020-seisoen sal saamgetel word om te bepaal wie vir 2021 se Varsity Cup kwalifiseer.

Buys se span skop dus die seisoen in ’n gunstige posisie (eerste plek) af, maar sal weer boaan die punteleer moet pronk om deur te dring.

“Nadat ons verlede jaar die meeste punte behaal het, weet ons nou dat ons dit weer kan doen,” het Buys gesê.

“Ons hoef nie weer 30 punte aan te teken nie. Solank ons weer die meeste punte behaal, sal ons doelwit bereik word en ons kwalifiseer vir die Varsity Cup.”

Volgens Buys is sy span se diepte verbeter en spog hy dat die Madibaz vanjaar twee sterk spanne uit hulle groep kan kies.

“Ons het reeds verlede seisoen begin bou sodat ons goeie plaasvervangers het vir beseerde spelers as dit sou nodig wees.

“Ook vir die later stadium van die kompetisie, wanneer enige iets kan gebeur.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters