6 dae gelede
Geskorste February lê sy eie klag
Chico February  ~ Foto Verskaf

DIE Oostelike Provinsie Rugbyunie (OPRU) probeer nou om sy huis in orde te kry ná ’n week van opskuddings.

Son het betroubaar verneem dat Chico February, die OPRU-visepresident, ook geskors is.

February se skorsing kom nadat John Scheepers, bestuurder vir klubrugby, en Angelo Peters, administrateur vir klubverwante aangeleenthede, in die week bedank het.

Voordat dié twee bedank het, het Bantwini Matika, adjunkpresident van OP, Maandag bedank.

Al drie word verbind met die vervalsing van invoices wat die unie na bewering van meer as R450 000 sou ontneem het.

Son het ook verneem dat February gister ’n saak teen die OP se president, André Rademan, by die Jeffreysbaai-polisiestasie gemaak het.

February het aan Son gesê hy het die klag gelê omdat hy voel Rademan maak die lewe vir hom moeilik.

Antwoorde

“Ek voel die president dreig my om te bedank en ek voel ek alleen kan nie antwoorde gee vir dinge terwyl daar ’n komitee is nie,” het February gesê.

Rademan wou nie kommentaar lewer oor February se skorsing nie.

“Ek is ’n bietjie geskok in die saak wat teen my gemaak is. Ek is 60 jaar oud en is nog nooit van enige iets in my lewe aangekla nie,” het Rademan gesê.

Hy noem dat February by hom raad gevra het.

“Een van die drie lede wat bedank het, het my gevra om February te kontak. Hy het my toe gevra vir advies en dit is wat ek gedoen het.

“Ek het hom nie gedreig op enige manier nie.”

Rademan wou verder oor die huidige saak met die lotto-geld en die vervalste fakture niks uitwei nie.

“Ek kan niks sê nie. Die regter is hier besig met sy ondersoek en verder is alles sub judice.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters