10 dae gelede
Gelyke straf vir rassisme
Jason Holder Foto: GETTY IMAGES  ~ 

SPELERS wat skuldig bevind word aan rassisme, moet dieselfde straf kry as wedstrydknoeiers.

Só sê die kaptein van die Wes-Indiese Eiland, Jason Holder.

Hoewel die Internasionale Krieketraad (ICC) se reëls ’n lewenslange skorsing toelaat vir rassisme op die veld, word dit weinig op oortreders toegepas.

“Ek dink nie die straf vir verbode middels of korrupsie moet verskil van dié vir rassisme nie,” verduidelik Holder.

“As ons kwessies in die sport het, moet ons dit met gelykheid hanteer.”

Onder die ICC se beleid teen rassisme word ’n eerste oortreding gestraf met tussen vier en agt skorsingspunte.

Twee punte beteken dat ’n speler vir een toets óf twee eendagwedstryde óf twee T20-wedstryde straf opgelê kan word.

Geteiken

Die voormalige kaptein van Pakistan Sarfaraz Ahmed is vir twee eendag- en twee T20-wedstryde gestraf vir sy rassistiese uitlating teenoor Suid-Afrika se all-rounder Andile Phehlukwayo in 2019.

Holder het ook uitgewys dat fans Engeland se snelbouler Jofra Archer met rassistiese aanmerkings in Engeland se tuis- en wegwedstryde geteiken het. Indiese fans het Archer se spanmaat Moeen Ali ook al geteiken oor sy Pakistanse agtergrond.

Holder, wie se span Engeland van 8 Julie af agter toe hekke in Southampton gaan pak, meen dat elke wedstryd voorafgegaan kan word met albei spanne wat herinner word aan hul verantwoordelikhede rakende ras. “Meer opvoeding moet daarmee gepaard gaan.” – AP

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters