3 dae gelede
Gekweste Maties wil UWK hard looi
Prof. Wilbur Kraak  ~ Franna Lombard

DIE Maties se rugbyspan is gekwes en gaan met ’n reuse-aanslag kom wanneer hy môreaand in die Varsity Cup die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) pak.

Maties het Maandag teen die verwagtinge in met 20-26 teen Ikeys verloor, terwyl Udubs met 28-28 teen die Shimlas gelykop gespeel het.

Prof. Wilbur Kraak, ’n rugbyafrigter en deskundige op die gebied van sportwetenskap, glo dat UWK, wat deur Paul Treu afgerig word, aanvanklik sal kan kers vashou vir sy meer geroemde teenstanders, maar dat die maroen golf die manne van Bellville-Suid daarna fisiek sal oorrompel.

“Kyk, ek dink die UWK het ’n goeie agterlyn en ’n baie gevaarlike agterste driehoek,” het Kraak laat hoor.

Oorhand

“Ek glo egter nie hulle het die voorspelers om Maties 80 minute fisiek te match nie.

“Ek dink UWK sal vir die eerste helfte in die wedstryd wees, maar Maties sal daarna die oorhand kry en waarskynlik met iets soos 30 punte wen. Ek sê dit ook met die geskiedenis in gedagte.”

Kraak meen UWK moes teen Shimlas gewen het.

“Hulle was veral in die eerste helfte indrukwekkend. Ek dink wedstrydfiksheid en die lugdruk het ’n tol in die laaste kwart van die wedstryd geëis.

“Ek voel ook hulle moes juis in daai tydperk pale toe geskop het toe hulle die geleenthede gehad het wat dalk die wedstryd vir hulle kon beklink het. Die feit dat hul voorspeler-reserwes ook dalk nie op die peil van die starters is nie, kan hulle dalk knou in die toernooi.

“Hulle het egter genoeg game­ breakers agterlangs wat die Maties onder druk kan sit,” verduidelik Kraak.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters