7 dae gelede
Garth is groot in Japan
garth april
Garth April in aksie vir die Sunwolves.  ~ Gallo Images

DIE Wellingtonner Garth April het ’n nuwe kontrak in Japan gesluit.

Die 28-jarige losskakel gaan volgende jaar vir die Shimizu Blue Sharks in Japan se Topliga speel. 

Hy is natuurlik geen vreemdeling in Japan nie aangesien hy die afgelope drie jaar eers vir NTT Communication Shining Arcs in die Topliga en die Sunwolves in Superrugby gespeel het.

Die Blue Sharks het promosie na die Topliga gekry en dis waarom April, wat ewe tuis is op heelagter, besluit het om die geleentheid aan te gryp.

Hy het vroeër vandag aan Son gesê: “Ek is baie opgewonde om by die Blue Sharks aan te sluit. Hulle het voorheen in die tweede divisie gespeel maar van volgende jaar speel almal in die Topliga en dis waarom ek besluit het om by hulle te teken. Ek is nou al vertroud en op my gemak met die Japanse kultuur, die mense en die kos. Ek is gewoond aan die taal hoewel ek nie heeltemal vlot is nie geniet ek dit om in Japan te speel en te bly.”

April, wat voorheen in Suid-Afrika vir die Sharks, WP, Lions en Boland gespeel het sê hoewel hy aanbiedinge vanuit Frankryk en Skotland gekry het, was dit nie vir hom ’n moeilike keuse om te maak nie.

“Ek dink die rede hoekom ek goed vaar is Japan is die feit dat die spel oop en vinnig is en dit pas my soos ’n handskoen. Dis ook glad nie so fisies soos hier by ons nie.”

Hy het tog nie heeltemal sy rug op Suid-Afrika gedraai nie.

“Ek sou graag weer hier wil speel maar ek het nog so vyf of ses jaar oor in my professionele loopbaan so ’n ou moet maar kyk na wat ná rugby gebeur en jouself probeer voorberei vir die lewe ná rugby. Op die stadium is dit beter om rugby in die buiteland te speel,” meen hy.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters