7 dae gelede
Gansie kry sy kansie
HOU HOM DOP! Stedman Gans kan die Curriebeker op horings neem.Foto: GALLO IMAGES  ~ 

DIE Blitsbok Stedman Gans kan die Blou Bulle se X-faktor in die Curriebeker-kompetisie wees.

Hy is as senter in Pote­ Human se groep vir die seisoen aangewys.

Die ander drie senters is Burger Odendaal, Dylan Sage en Johnny Kotze­.

Gans se groot vaart, bedrieg­like systap en goeie hanteervermoë kan vir die Bulle goud werd wees.

Dit sal dus nie verbaas as hy die Bulle se vonds van die seisoen is nie.

Ontwikkel

Die Blitsbokke se afrigter, Neil Powell, stem saam.

“Gans is ’n spesiale speler met die bal in die hand,” merk Powell op.

“Hy sien geleenthede raak en het die afgelope twee jaar mooi ontwikkel.

“As ’n ekstra playmaker kan hy dus nog uiters waardevol wees vir die Bulle. Ek glo hy behoort ’n goeie nr. 12 langs die losskakel te wees.”

Gans kan die span heel moontlik dieselfde X-faktor bied as wat Rosko Specman tot dusver gedoen het.

Gans sal sy kans in die kompetisie met albei hande aangryp. Hy is uiteraard gretig om ’n groot impak te maak.

Hy behoort maklik by die vyftienman-kode in te pas. Die afrigter, Pote Human, het hom nie om dowe neute gekies nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters