12 dae gelede
Gans te goed
Stedman Gans  ~ Gallo Images

STEDMAN Gans was tot dusver een van die groot uitblinkers vir die Bulls in die Superrugby Un­lock­ed-kompetisie.

Die 23-jarige boorling van Vredenburg is reeds ’n ervare Blitsbok wat die Reënboog­nasie aangevoer het.

Soos enige Suid-Afrikaanse rugbyspeler wil hy graag vir die Springbokke toetsrugby speel, maar vir eers is dit sy droom om die Blitsbokke volgende jaar by die Olimpiese Spele in Tokio te verteenwoordig.

Die oudleerder van die Hoërskool Waterkloof in Pretoria het Maandagaand in ’n onderhoud op die program Op die Hoofpawiljoen op Radio KC gesê: “Ja, vandat ek ’n jong laitie was, wou ek nog altyd baie graag vir die Springbokke speel. Niks het verander nie.

“Dit is definitief iets waarop ek my oë het.

“Coach Jake (White, afrigter van die Bulls) kyk vir ’n geleentheid of hy my kan release om aan die Spele deel te neem.

“Daarna sal ek beslis terugkom Bulle toe.”

Die vlugvoetige buitesenter het ook gesê hy was tot dusver vanjaar baie geseënd op die rugbyveld.

“Daar was obviously baie onderbrekings, wat dit maar vir ons almal ’n moeilike jaar gemaak het.

“Ons moes baie vasbyt en geduld wys, maar daar was vanjaar ook baie seëninge op die veld.

“Jake het vir my gesê hy soek ’n kombinasie van jeug en ervaring.

”Ek dink hy het dit 100% reggekry.

“In ons agterlyn het ons die ervaring van Morné Steyn, wat daai kalmte bring wanneer ons dit nodig het.

“En dan is daar jong manne soos ek, David Kriel en Kurt-Lee Arendse, wat excitement kan bring.”

En oor sy kombinasie met Cornal Hendricks in die middelveld het Gans gesê: “Ek dink as ’n senterpaar doen ons tans goed.

“Ons groei nog as ’n kombinasie.”

Hardloop

Hy het bygevoeg: “Ons albei is baldraers.

“Cornal was voorheen ’n finisher op die wing en hy weet presies hoe om in gate te hardloop.

“Ek dink op daai manier vul ons mekaar lekker aan.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters