Verlede maand
Fozzy raak moerig
Ian Foster  ~ Getty Images

IAN Foster, coach van die All Blacks, is lekker de moer in oor die moontlikheid dat sy span vier van sy Rugby Championship-toetse in Australië sal moet speel.

Die All Blacks kom volgende naweek (7 Augustus) teen die Wallabies te staan in die eerste van drie Bledisloe Cup-wedstryde. Dié toets tel nie as deel van die Rugby Championship nie.

Die tweede Bledisloe Cup-wedstryd – ook in Nieu-Seeland – word ’n naweek later beslis en tel as die All Blacks en Wallabies se openingswedstryd van dié toernooi.

Wanneer die All Blacks egter vir ’n derde keer die Australiërs moet pak, gaan hulle na dié land moet reis, maar hulle sal dan nie mag terugreis Nieu-Seeland toe nie.

Frustrerend

Dít volg omdat die Nieu-Seelandse regering vlugte na en van hul Trans-Tasmaanse buurland vir agt weke opgehef het. Volgens die skedule moet die All Blacks nog vier toetse op tuisbodem speel – twee teen Argentinië se Poemas en twee teen die Springbokke. Die Poemas en Bokke kom volgende week en die week daarna in hul eerste stryde teen mekaar in Gqeberha te staan. Daarna reis albei spanne na Australasië vir hul ander stryde.

Foster sê: “Dis frustrerend om ’n jaar later met dieselfde probleem te sit waar daar nie met kreatiewe oplossings vorendag gekom kan word om sportspanne in ons land te kry nie.

“Ons het aan die begin gesê ons het ’n veldtog van 15 wedstryde. Ons was opgewonde daaroor, met 9 wedstryde by die huis.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters