3 maande gelede
Foxes op koers vir Champions League-plek
Brendan Rodgers  ~ Getty Images

BRENDAN Rodgers, manager van Leicester City, het beslis nie sy woorde gemince toe hy die belangrikheid van Saterdag se Engelse Premierliga-oorwinning beklemtoon het nie.

Die Foxes het Brighton and Hove Albion in die Amex-sta­dion met 2-1 geklop.

Dié sege hou Rodgers se span nog diep in die gesprek vir kwalifikasie vir volgende seisoen se deelname aan die Uefa Champions League. Hy spog nou met 53 punte en wil seker maak hy stapel nóg meer op om nie soos laas seisoen uit die bus te val nie.

Rodgers se span het tóé ook gelyk soos een wat die seisoen onder die topvier sou afsluit, maar toe glip Manchester United en Chelsea verby hulle.

“Dis ’n baie belangrike sege,” het Rodgers ná die stryd gesê.

“In die eerste helfte het ons nie genoeg gedoen om druk toe te pas nie en het verdien om agter te loop. Ons moes onsself die vraag vra oor wat ons wou bereik en ek dink ons het in die tweede helfte briljant gevaar.”

Gety

Dit het gelyk asof Brighton sy wendroogte tuis sou breek toe Adam Lallana met sy eerste doel vir dié klub aan die tuisspan die voorsprong gegee het.

Kelechi Iheanacho se gelykmaker het toe die gety laat draai, met Daniel Amartey wat die wendoel vir die Foxes in die 88ste minuut aangeteken het.

Die nederlaag sal die gevaarligte vir Brighton laat flikker, want relegasie uit die Premierliga is steeds ’n moontlikheid.

Die span lê tans net een posisie bo die punteleer se relegasiesone.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters