13 dae gelede
Foxes moet ná draw nou oor skouer loer
HOLE-IN-ONE: James Ward-Prowse met sy bekende gholfstok-swaai-vieringe ná ’n doel vir Southampton.  ~ Reuters

LEICESTER City sal ná Vrydag se gelykop uitslag beslis weet dat hy sy kans verspeel het om verdere druk op die tweede geplaaste Manchester United in die Engelse Premierliga te plaas.

Dit is nou die derde geplaaste Foxes wat met angs oor hul skouers sal loer nadat hulle nie ’n 10-man-Southampton kon ore aansit nie.

Die feit dat Chelsea boonop ná ’n sege van 2-0 oor Fulham nou net twee punte agter Brendan Rodgers (manager) se Foxes sit, kan ook tot ’n senutergende eindpoging in die seisoen bydra.

Moeiliker

Rodgers en sy spelers sal veral goed onthou hoe hulle verlede seisoen ook ’n goeie begin opgemors het om op die ou end vyfde te eindig – net buite ’n kwalifiserende plek vir die Uefa Cham­pions League. Hul volgende wedstryd is Vrydag teen ’n onvoorspelbare Newcastle.

Daarna reis hulle op 12 Mei na Old Trafford om United aan te durf.

Vir ’n moeiliker einde tot die seisoen kon Rodgers ook nie gevra het nie. Hul laaste twee kragmetings vir die seisoen is onderskeidelik teen Chelsea (19 Mei) en Tottenham Hotspur (23 Mei).

Daar is wel troos in die feit dat dié kragmetings op die Foxes se tuisveld beslis word. Rodgers het ná Vrydag se gelykop stryd aan Sky Sports erken hy is ontevrede met hoe dinge ontvou het.

Hy sê: “Ek is so ’n bietjie gefrustreerd. Ons het nie genoeg gedoen om die wedstryd te probeer wen nie.

“Ons is normaalweg baie goed in dié soort wedstryde, maar ons kon nie die tempo optel voordat ons reeds agter was nie. South­ampton verdien lof vir die manier waarop hulle diep en kompak met net 10 manne verdedig het.

“Hulle het dinge moeilik gemaak. Ons is teleurgesteld.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters