8 dae gelede
Force reg vir hul ‘grudge match’
Richard Kahui  ~ Gallo Images

DIE Western Force gaan vandag wil wraak neem teen die Rebels wanneer die twee spanne mekaar in ’n Superrugby AU-kragmeting (afskop 11:05 SA tyd) die stryd aansê.

Tim Sampson, die Force se afrigter, het gister gesê sy span moet die Rebels klop sodat hulle die fans kan wys dat dit onregverdig was om die span van Perth in plaas van die Rebels drie jaar gelede uit Superrugby te skop.

Dié twee spanne gaan mekaar vir die eerste keer aandurf sedert Rugby Australië besluit het om die Force uit Superrugby weg te laat om koste te bespaar.

Ondanks hul deelname aan die kompetisie sedert 2006, vyf jaar voor die Rebels, is die Force aan die einde van die 2017-veldtog uitgeskop.

Dit het tot betogings deur die omgekrapte fans gelei.

Volgens Sampson verskaf die geskiedenis tussen dié twee spanne in die Leichhardt Oval net meer vonk aan die kragmeting.

Konsentreer

“Wat die ondersteuners en lede deurgemaak het, gee hulle die reg om so te voel. Vir ons fans moet ons seker maak ons wen,” het Sampson aan verslaggewers gesê.

“Ons moet net konsentreer op wat ons kan beheer, en as ons ’n oorwinning kan behaal, sal ons dit baie geniet.

“Ek is seker dat dit baie vir die mense by die huis beteken. Ons het vandeesweek daaroor gepraat.”

Die Force is tot dusver segeloos ná drie wedstryde.

Daarteenoor het die Rebels een keer gewen, een verloor en ’n gelykop uitslag behaal.

Die voormalige All Black Richard Kahui is vir die eerste keer in die Force se beginspan op binnesenter ingesluit.

Die Brumbies kom môre teen die Reds in die GIO Stadium in Canberra te staan.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters