13 dae gelede
'Folau wou nie ophou'
MELBOURNE, AUSTRALIA - DECEMBER 02: Maria Folau ho
Maria Folau hou haar man Israel Folau se hand vas nadat hulle die federale hof in Melbourne verlaat.  ~ Getty Images

ISRAEL Folau het erken sy plasings op sosiale media kan sekere mense skade berokken, maar het volstrek geweier om daarmee op te hou.

Só het Raelene Castle, uitvoerende hoof van Rugby Australië, Maandag buite die federale hof in Melbourne gesê.

Folau en sy vrou Maria was daar vir 'n bemiddelingsvergadering oor sy reuse eis van $14 miljoen.

Castle sê Folau het aan hulle gesê hy sal post wat hy wil en wanneer hy so voel, berig The Guardian.

Die voormalige Australiese heelagter en stoere Christen beweer nou hy is onregmatig afgedank. Dit omdat sy rugbybase in Mei vanjaar besluit het om sy kontrak op te skeur ná sy omstrede plasings op Instagram. 

In een van sy plasings het hy dronkaards en homoseksuele mense "gewaarsku" dat die hel op hulle wag.

Sedertien is hy in 'n taai stryd met Rugby Australië gewikkel wat mik om in die hof op te eindig.

Hy het juis laas week die bedrag van sy vergoedingseis van $10 tot 14 miljoen opgestoot. Die bedrag is gegrond op die inkomste wat hy sou verdien het uit sy kontrak.

Hy het boonop ook verklaar dat die Wallabies beter by vanjaar se Wêreldbeker sou gedoen het met hom in die span.

Sy bewering dat hy 'n kans gestaan het om Wallabies-kaptein ook te wees, is intussen uit verskeie oorde as snert afgemaak.

Luidens The Guardian sê Castle sy het boodskappe vanuit die rugbygemeenskap gekry wat die besluit, om Folau se kontrak te beëindig, ondersteun.

"Dit laat geen twyfel by ons dat ons doen wat reg is. Israel se kommentaar na die beëindiging van sy kontrak versterk net dié siening."

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters