2 maande gelede
Fluffy meen rugby was die groot wenner
Fagmie "Fluffy" Solomons  ~ Foto Verskaf

AL HET die Westelike Provinsie die SA Cup final in 1988 verloor, glo Fagmie “Fluffy” Solomons rugby was aan die einde van die dag die groot wenner.

Francois “Kaballie” Davids het die Boland daardie dag in die Athlone-stadion aangevoer. Solomons was die kaptein van die WP-span wat in die eindstryd met 6-9 teen Boland vasgeval het.

Dié 63-jarige boorling van die Bo-Kaap het die WP-span in die Saru-era van 1986 tot 1989 aangevoer.

Solomons was ’n uiters vaardige losskakel wat ook die WP as ’n krieketspeler verteenwoordig het. Hy onthou die kragmeting asof dit gister plaasgevind het.

Gedugte

“Ja, dit was ’n ongelooflike game van rugby wat voor duisende begeesterde toeskouers in ’n volgepakte Athlone-stadion gespeel is,” sê Solomons aan Son.

“Die WP was ’n gedugte span. Almal wou ons geklop het.

“Ons het altyd ’n sterk pak voorspelers gehad. Daarteenoor was Boland bekend vir hul vlugvoetige agterspelers.

“Al was ons die gunsteling om die game te wen, glo ek Boland het op die dag verdien om as die kampioen gekroon te word. Dit was ’n great prestasie vir hulle om ons te klop.

“Boland was ’n span wat jou behoorlik kon straf wanneer jy ’n fout maak.

“Dit is hoe hulle ons geklop het – hulle het ons foute uitgebuit. Ek onthou hulle het daardie dag die enigste drie van die game gedruk.

“Dit was ’n onderskep-drie van Joslin Ontong.

Gesels

“Ek het met twee penalties geslaag. Hul intercept try het vier punte getel en dan was Silvin Isaacs ook suksesvol met ’n doelskop en ’n strafdoel. Hulle was beslis waardige kampioene.”

Solomons sê hy en Davids gesels nog gereeld met mekaar. “Ek het onlangs met hom oor daai game gepraat. Dit is wat rugby destyds in ons gemeenskappe so great­ gemaak het.

“Dit was moeilike tye. As kapteins moes ons sekere vaardighede aanleer om ons spelers te bestuur sodat ons die beste uit hulle kon kry.

“Ons was vyande op die veld, maar van die veld af het ons lewenslange vriende gebly.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters