12 dae gelede
Fagrie wil duck breek
Fagrie Lakay  ~ Gallo Images

FAGRIE Lakay is oortuig dat hy dié seisoen nog sy duck by Cape Town City kan breek om goals aan te teken.

Die 23-jarige boorling van Manenberg het sedert sy skuif in September laas jaar van Wits terug na die Kaap gesukkel om sy voete en ritme te vind.

Ervare

Natuurlik het beperkte speelkans ook nie die voormalige SuperSport United-striker se vooruitsigte in die Moederstad gehelp nie.

Maar dis ook omdat City oor gedugte en ervare spelers in sy groep beskik. Die manne mol dus behoorlik vir ’n plek in die beginspan.

Tog moet ’n mens in gedagte hou dat Lakay die rekord hou as die jongste speler nóg wat Bafana Bafana verteenwoordig het.

Hy was 17 jaar, 5 maande en 30 dae oud toe hy die vorige rekord van Rivaldo Coetzee in 2014 gebreek het.

Dit was in ’n oorwinning van 2-0 oor die Ivoorkus, toe hy Themba Zwane in die wedstryd vervang het.

Coetzee, van Kakamas, was op sy beurt 17 jaar, 11 maande en 25 dae oud toe hy in 1999 Aaron Mokoena se 15 jaar lange rekord gebreek het. Mokoena was 18 jaar oud.

Lakay besef hy sal heelwat harder moet werk om sy coach (Jan Olde Riekerink) te oortuig hy moet gekies word.

“Dinge werk nie altyd uit soos jy dit in jou kop het of beplan nie.

“Maar jy vat mos die good with thebad en hou jou kop hoog. Jy sit ook elke dag ’n ordentlike shift in. Dis basies maar al wat jy kan doen en hoop die coach sien jou efforts op die oefenveld raak,” sê die voormalige Santos-vleuel.

Lakay het ook ’n kort stint by PEC Zwolle in Nederland geniet. Hoewel hy beïndruk het, moes hy terugkeer na Suid-Afrika omdat hy nie betyds ’n werkpermit kon kry nie.

Met die Premierliga-seisoen wat volgende naweek hervat word ná die onderbreking weens die corona-virus, is Lakay oortuig hy sal sy eerste doel vir City kan aanteken.

Verligting

Die Citizens sal hul tuiswedstryde op Loftus Versfeld in Pretoria speel.

“Ek dink om my duck te breek sal nogal ietwat van ’n verligting wees.

“Dis mos enige striker se doelwit om doele aan te teken. Maar dis vir my meer belangrik dat die span moet seëvier om te verseker ons speel volgende seisoen in die top-agt sokker.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters