5 dae gelede
Faf-hulle ‘verlore’
faf
Talentvol: Faf du Plessis en Chris Morris in beter dae.  ~ _GALLO IMAGES

TERWYL die Proteas se vertonings en gebrek aan spelers van gehalte vandag opnuut in die kruisvuur gaan wees, lyk dit asof hul kanse ’n nekslag toegedien is om aanspraakmakers in vanjaar se T20 Wêreldbekertoernooi te wees.

Dit lyk na ’n uitgemaakte saak dat die “T20 free agents” Faf du Plessis, Chris Morris en Imran Tahir nie deel van die Proteas se aanslag in die Midde Ooste sal wees nie.

Dít ten spyte daarvan dat Krieket Suid-Afrika moontlik onder die indruk is dat hulle beskikbaar is.

Son het Victor Mpitsang, sameroeper van die Proteas se keurkomitee, vandeesweek oor dié kwessie genader.

Op die vraag of bogenoemde spelers vir keuring vir die WB beskikbaar is, het die voormalige Protea-naatbouler bloot via WhatsApp geantwoord: Ja, hulle is.

Netwerk24 het egter Dinsdag berig dat die veelsydige Morris hom nie vir die toernooi beskikbaar gaan stel nie.

Boonop hang Du Plessis se moontlike deelname aan ’n baie dun draadjie.

Hy is glo bereid om hom beskikbaar te stel vir keuring, maar omdat hy nie meer ’n nasionale kontrak het nie, kon hy en KSA glo nog nie ooreenkom oor sy vergoedingspakket nie.

Opgang

Tahir, ’n ander free agent – dis nou spelers wat nie nasionale kontrakte het nie en eerder in die uiters winsgewende T20-toernooie elders in die wêreld speel – is luidens gerugte ook nie baie lus om hom beskikbaar te stel nie.

Tabraiz Shamsi se opgang as gewrigsdraaibouler beteken dat Tahir waarskynlik nie soveel gemis sal word as Du Plessis en Morris nie.

Du Plessis se vermoëns met die kolf en as veldwerker, sowel as sy leierskap, sal goud werd wees vir Mark Boucher (afrigter) se span.

Dieselfde geld Morris – ’n speler wat oor ’n oorvloed X-faktor beskik en wat as een van die wêreld se beste all-rounders in witbalkrieket beskou word.

  • Die tweede van drie T20I’s tussen Suid-Afrika en Ierland begin vanmiddag 17:00.

PROTEAS: Temba Bavuma (kaptein), Quinton de Kock, Bjorn Fortuin, Beuran Hendricks, Reeza Hendricks, Heinrich Klaasen, George Linde, Keshav Maharaj, Janneman Malan, Aiden Markram, David Miller, Wiaan Mulder, Lungi Ngidi, Anrich Nortjé, Andile Phehlukwayo, Kagiso Rabada, Tabraiz Shamsi, Rassie van der Dussen, Kyle Verreynne, Lizaad Williams.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters