29 dae gelede
KYK: Hoekom Faf skop
YOKOHAMA, JAPAN - SEPTEMBER 21: Faf de Klerk of So
Faf de Klerk maak gereed om te skop.  ~ Getty Images

TOKIO. – Faf de Klerk verduur geweldig baie kritiek van Springbok-fans omdat hulle glo hy skop te veel goeie balbesit weg.

Die Springbok-skrumskakel het Woensdag hier by die spanhotel oor die Bokke se skoptaktiek voor Sondag se halfeindstryd van die World Cup teen Wallis in die Yokohama-stadion gepraat.

Toe Son hom hieroor pols het hy gesê: “Ja, die rede hoekom ek so baie skop is omdat ons probeer om territoriale pressure op die opposisie te plaas. Ons probeer ook om die bal terug te kry in die lug. Ons vleuels het baie goed daarin geraak, Ons sien dit as ’n goeie platvorm om van te attack.

“En wanneer ons daai bal kan terugwen, is die defence se strukture heeltemal weg. Dit is dan ’n great opportunity vir ons om wyd te gaan en die vleuels die spasie te gee om drieë te druk.”

Oor die kritiek wat hy op sosiale media moet deurloop vir sy skoptaktiek het De Klerk gesê: “Ja, spelers sê altyd dat hulle dit vermy en hulle steur hulle nie daaraan nie. Dit is egter onmoontlik om dit nie raak te sien nie. Van die goed is regtig baie snaaks en ek geniet dit, maar daar is ook tye waar mense ons persoonlik aanval.

“Die mense is egter baie lief vir die Springbokke. Wanneer hulle iets verkeerd sien en hulle stem nie saam met dit nie, is nie omdat hulle negatief is nie, maar hulle is wil graag hê die Bokke moet goed vaar. Maar ons weet wat vir ons in die kamp werk.

“Ons luister na die afrigtingspan en die spelers rondom ons. Daar is ’n nice foto wat sê ek kan nie net eie bal skop nie, maar ek kan dit ook spin. Hulle noem my dan ’n spinnekop.

“Dit was vir my baie snaaks toe ek dit sien. Wanneer jy opgevang raak in daai goed verloor jy fokus in wat jy moet doen.”

De Klerk verwag dat  Wallis heeltemal ’n ander uitdaging vir die Bokke as Japan bied.

“Ons is nou besig om planne vir hulle uit te werk. Ek is seker ons gaan reg wees vir die naweek. Ons almal sien baie uit daarna,” het hy bygevoeg.

Hier is Faf se verduideliking:


Lewer kommentaar op hierdie artikel
30 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters