3 dae gelede
Ervare vroue gekies vir Cup
BREINTRUST: Dané van Niekerk en Hilton Moreeng word met vrae gepeper.  ~ Gallo Images

KRIEKET Suid Afrika (KSA) het gister ’n ervare groep van 15 spelers bekend gemaak vir volgende maand se T20 World Cup (WC) in Australië.

Hilton Moreeng, afrigter van die Proteas, het 11 spelers in sy groep genoem wat aan die 2018-toernooi deelgeneem het, asook vier spelers wat in hulle eerste WC sal speel.

Hulle speel hulle eerste wedstryd teen Engeland in Perth, gevolg deur wedstryde teen Thailand, Pakistan en die Wes-Indiese Eilande.

Die toernooi begin op 21 Februarie, met die eindstryd wat op 8 Maart, Internasionale Vrouedag, plaasvind.

Beste

Moreeng sê: “Dis ’n groep wat die talent, ervaring, jeug en begeerte het om ons die T20 World Cup te help wen.

“Die spelers wat ons tot ons beskikking het, is van die bestes in die wêreld en ons sal seker maak dat ons hulle die beste gee om op die grootste verhoog sukses te behaal.”

Graeme Smith, KSA se direkteur van krieket, het ook die groep voorspoed toegewens.

Smith het gesê: “Sterkte aan Dané (van Niekerk, kaptein) en haar span. Ek is seker hulle sal alles in hulle vermoë doen om die land trots te maak.

“Ek glo hulle sal met dieselfde gees speel wat hulle in 2017 amper tot in die eindstryd van die eendaagse WC vir vroue gebring het.”

Die Proteas se groep vir die T20 WC in Australië is:

Dané van Niekerk (k), Laura Wolvaardt, Lizelle Lee, Mignon du Preez, Marizanne Kapp, Suné Luus, Chloe Tryon (o/k), Shabnim Ismail, Ayabonga Khaka, Masabata Klaas, Tumi Sekhu­khune, Trisha Chetty, Nonkululeko Mlaba, Nadine de Klerk, Nondumiso Shangase.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters