3 dae gelede
Ervare Mnisi lei nou Kings
Howard Mnisi
Howard Mnisi lei more die Kings op die veld teen die Ospreys.  ~ Gallo Images

HOWARD Mnisi is as kaptein van die Southern Kings aangewys vir hul wedstryd more in die Liberty-stadion teen die Ospreys.

Robbi Kempson, die Kings-breier, sal hoop dat Mnisi se ervaring die Kings sal lei tot hul eerste oorwinning vanjaar in die Pro14-seisoen.

Die voormalige Leeus-speler keer terug van 'n kuitbespering.

Kempson sê dit is wonderlik om Mnisi terug te hê met al sy ervaring en die rustigheid wat hy tot die span bring.

"Hy is een van die leiers wat 'n groot invloed op ons span het. Tienie Burger sal dan ons onderkaptein wees om die voorspelers te lei,” sê Kempson.

Erich Cronje, wat verlede naweek die veld verlaat het nadat hy 'n stamp in die nek gekry het, gaan saam met Mnisi in die middelveld diens doen. 

Scott van Breda, wat deesdae vir die Worcester Warriors in Engeland speel, gaan op heelgater uitdraf. 

Breda, wat op leenkontrak by die Kings is, is in die plek van Masixole Banda wat 'n welverdiende blaaskans kry.

Mnisi sê hulle het reeds die nederlaag teen Glasgow Warriors agter hulle gesit en het nou 'n ander missie.

“Ons fokus op die volgende wedstryd teen die Ospreys. Hulle is 'n span wat histories baie gevaarlik is, veral op hul tuisveld.

"Hulle kry nes ons die laaste ruk nie die beste uitslae nie, daarom gaan dit 'n groot stryd wees."

Die Kings is: Scott van Breda, Chris Hollis, Erich Cronje, Howard Mnisi (k), Josiah Twum-Boafo,  JT Jackson, Josh Allderman, Elrigh Louw, Thembelani Bholi, Tienie Burger, Bobby de Wee, Jerry Sexton, Pieter Scholtz,  Jacques du Toit, Juan Schoeman.

BANK: Alandre van Rooyen, Xandre Vos, Lupumlo Mguca, Aston Fortuin, Ruaan Lerm, Sarel Pretorius, Siya Masuku, S’bura Sithole.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters