2 maande gelede
Engeland toer in SA ten spyte van marakkas
Hef in die hand: Nathi Mthe­thwa, die minister van sport.  ~ Gallo Images

ENGELAND se kriekettoer in Suid-Afrika gaan voort, al woed die dispuut nog tussen Krieket Suid-Afrika (KSA) en die sportministerie.

’n Hooggeplaaste bron het aan ESPNcricinfo gesê die witbalreeks van drie ODI’s en drie T20I’s, wat op 27 November moet begin, sal ter wille van die spelers en krieketliefhebbers gespeel word.

Dit beteken egter nie KSA is in die minister van sport, Nathi Mthethwa, se goeie boekies nie. Inteendeel, daar is ’n goeie kans Mthethwa sal die Wet op Nasionale Sport en Rekreasie gebruik om by KSA in te tree.

Vergader

Vir KSA kan dít die onttrekking van finansiering beteken – en die verlies van sy status as ’n nasionale verteenwoordiger as die KSA-lederaad nie die tussentydse raad (wat deur Mthethwa saamgestel is) erken nie. Die lede en raads­lede moet binnekort vergader om ’n finale besluit te neem.

Selfs al erken die lederaad nie die tussentydse raad nie, kan die minister se optrede nie daartoe lei dat die Engelse toer afgelas word nie.

Engeland moet Maandag na Suid-Afrika reis om ’n kwarantynperiode van tien dae te begin.

Die reeks sal die eerste in Suid-Afrika wees sedert die land se lockdown in Maart begin het. Hulle sal ook dié somer gasheer speel vir Sri Lanka, Australië en Pakistan en gaan later in die seisoen na Pakistan reis.

Woedend

Daardie wedstryde kan egter bedreig word as die lederaad nie aan die minister van sport se eise voldoen nie.

Mthethwa was verlede week woedend toe KSA besluit het om nie die aanstelling van sy tussentydse raad te bekragtig nie.

Die Internasionale Krieketraad (IKR) duld nie regeringsinmenging by die bestuur en administrasie van krieket nie. Dit kan meebring dat KSA as lid van die IKR geskors word. Dit sal die spel in Suid-Afrika ’n reuse-nekslag toedien en die lewensvatbaarheid van die professionele spel in gedrang bring.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters