8 maande gelede
Elton teen Robert kan riller wees
Robert du Preez  ~ Gallo Images

DIE Lions-losskakel Elton Jantjies kry Saterdag sommer met die intrapslag die kans om sy aanspraak op ’n plek tussen die Springbokke te versterk.

Die Lions speel dan gasheer vir die Sharks in hul eerste Superrugby-wedstryd van die seisoen.

Jantjies het in verskeie toetse die nr. 10-trui gedra voordat sy spel einde verlede jaar ’n insinking beleef het.

Allister Coetzee, afrigter, het daarna eers Handré Pollard van die plaasvervangerbank af aangewend voordat Jantjies eindelik die trekpas gekry het.

Soos met krieketspelers die geval is, beleef rugbyspelers ook soms ’n insinking in hul spel.

Jantjies sal dus Saterdag ’n regmerkie agter sy naam wil hê deur as beste losskakel op die dag van die veld te stap.

Robert du Preez, die Sharks se aanwins uit die Kaap, gaan waarskynlik ’n groot gedeelte van die wedstryd die kans kry om sy stoffasie te wys. Dit is ook die eerste keer dat hy die KwaZulu-Natallers se trui oor sy kop trek.

Hy word allerweë as ’n toekomstige Springbok beskryf.

Die stryd tussen Jantjies en Du Preez kan dus nie net deurslaggewend vir welslae wees nie, dit kan ook talle hoogtepunte oplewer.

’n Ander speler wat geen Springbokspan in die steek sal laat nie, is die Lions se senter Harold Vorster. Hy en Rohan Janse van Rensburg is ’n gedugte kombinasie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters