15 dae gelede
Elroy kry Spele-tyd op renbaan
LANGASEMS: Atlete Sondagoggend in aksie in die Langa Marathon Challenge op die Killarney-renbaan.  ~ Roger Sedres

ELROY Gelant het Sondag op die Killarney-renbaan in Kaapstad die Langa Marathon Challenge gewen.

Dié wedloop is spesifiek deur Chris Bruwer en Aubrey­ Isaacs van die Retail Capital Langa-atletiekklub gereël om atlete die geleentheid te gee om vir die marathon (42,2 km) op vanjaar se Olimpiese Spele in Tokio te kwalifiseer.

Gelant het die wedloop in 2 uur 11 min. en 22 sek. afgelê en in die proses die kwalifiserende vereiste van (2:11:30) vir die skouspel in Japan oortref.

Spele

Motlokoa Nkhabutlane van Lesotho was tweede, maar kon nie kwalifiseer nie. Sy tyd van 02:11:32 was met net twee sekondes te stadig vir ’n vliegtuigkaartjie na die Spele.

Die 36-jarige,wat 2:09:47 in Parys in 2017 gehardloop het, was op koers om sy doelwit te bereik. Hy het egter van die 32 km-merk met dyspierkrampe begin sukkel. Sy landgenoot Tsepo Ramashamole (02:12:02) was kort op sy hakke in die derde plek.

Volgens Gelant het hy ’n goeie oefenlopie vir die marathon nodig gehad voordat die Olimpiese Spele in Julie begin. Daarom het hy besluit om nie voluit te gaan nie.

“Ek het my oefensessies aangepas deur minder intensiewe spoedwerk te doen en meer aërobiese oefening in te kry,” het hy verduidelik.

“Dit het vir my gewerk, want my bene het tot die einde goed gevoel.

“Die wedloop op Killarney is die enigste marathon in Suid-Afrika wat van ’n renbaan gebruik maak.

“Dit is net soos die een waar Eliud Kipchoge gejaag het in sy eerste poging om ’n marathon in vinniger as 2 uur te voltooi,” het Gelant verduidelik.

In die wedloop vir vroue het Neheng Khatala van Maseru die eindstreep in 02:28:06 oorgesteek en sodoende haar kaartjie na Tokio bespreek.

Al het Fortunate Chidzivo (2:35:19) van Langa ’n persoonlike beste tyd opgestel, was dit ongelukkig nie genoeg om die kwalifiserende vereiste vir vroue van 2:30:00 te oortref nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters