2 maande gelede
Elgar getip as kaptein
WIE GANIT WEES? Temba Bavuma, Aiden Markram en Dean Elgar saam met twee van hul voorgangers, Faf du Plessis en Hashim Amla.  ~ Getty Images

DEAN­ Elgar, die Proteas se aanvangskolwer in vyfdagtoetse, neem waarskynlik die voortou om as die span se nuwe kaptein aangewys te word.

Dié hotklou van Welkom is die enigste van die kandidate wat Suid-Afrika al op toetsvlak gelei het en ál een wat tans redelik op peil is.

Aiden Markram en Temba Bavuma is twee ander kandidate, terwyl Rassie van der Dussen as ’n buiteperd beskou kan word.

Die 33-jarige Elgar het ook tot dusver in die plaaslike vierdag­reeks met die kolf die praatwerk gedoen, terwyl Markram, Bavuma en Van der Dussen tot dusver gesukkel het.

Elgar het reeds twee vyftigtalle en ’n honderdtal aangeteken vir ’n stewige totaal van 225 lopies in vier beurte.

Daarenteen het nie een van Markram (84 in 4). Bavuma (100 in 4) en Van der Dussen (33 in 3) al ’n vyftigtal in die reeks behaal nie.

Voeg daarby die feit dat Elgar (63 toetse) die mees ervare van die kandidate is én bekend staan as ’n hardnekkige speler wat sy lyf vir die span op die spel sal sit, en jy kan verstaan hoekom hy deesdae as die voorloper vir die kapteinskap beskou word.

Hy het ook onlangs vir die eerste keer in die media sy bereidwilligheid om die kapteinskap by Faf du Plessis oor te neem, bekend gemaak.

“Sonder om arrogant en grootkop te klink, sou dit op die oomblik vir KSA sin maak (vir hom om as toetskaptein aangestel te word),” het Elgar ná sy honderdtal twee weke gelede teen die Cobras op Nuweland aan CricketFanaticsMag.com gesê.

“As speler is dit geheel en ál buite jou beheer. Tog, uit ’n persoonlike oogpunt, het ek myself regtig probeer groom, maar dis heeltemal buite my beheer. Tog moet jy maar hul besluit respekteer.”

Elgar se kommentaar was in teenstelling met sy aanvanklike strategie om nie sy naam deur die media in die hoed te gooi nie.

“Die kapteinskap is nie soos om vir ’n werksonderhoud te gaan waar jy jou CV inhandig nie,” het hy vroeër vanjaar laat hoor.

“Jy steek nie jou hand daarvoor op nie. Dit is iets wat deur iemand anders besluit word en dit is volgens hulle die beste persoon vir die werk.”

Du Plessis het na Suid-Afrika se tuisreeksnederlaag teen Engeland besluit om eerder die tuig as kaptein neer te lê.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters