Verlede maand
‘Ek’s nie ’n rassis'
Toks van der Linde  ~ Gallo Images

DIE voormalige Springbok-vaskopstut Toks van die Linde het Zelt Marais, president van die Westelike Provinsie Rugbyunie, dié week verskoning gevra nadat hy hom in die sosiale media ’n poephol (“aswhole”) genoem het.

Van der Linde het op Facebook geskryf: “Zelt Marais is the biggest aswhole WP has ever had – so gatvol of him.”

Die 50-jarige Van der Linde werk deesdae as kommentator by SuperSport en is ook die gasheer van ’n weeklikse kletsprogram, Toks & Tjops.

Dié boorling van Senekal het in sy speeldae vir die Vrystaat en Natal gespeel voordat hy van 1995 tot 2001 in 133 games vir die Westelike Provinsie uitgedraf het.

Vanaf 1998 tot 2001 het hy 36 keer vir die Stormers gespeel en hy’t Suid-Afrika ook van 1995 tot 2001 in sewe toetse verteenwoordig.

Sy loopbaan is egter deur die jare in omstredenheid gedompel.

In 1997 is Van der Linde van die veld gejaag in Suid-Afrika se game teen die Franse Barbarians in Biarritz nadat hy op ’n opponent getrap het.

In 1998 is hy beboet nadat hy by ’n Bok-oefenkamp met die oorlede Springbok-vleuel James Small in ’n rusie betrokke was.

In April dieselfde jaar is Van der Linde op die Westelike Provinsie se toer in Nieu-Seeland in skande huis toe gestuur nadat hy ’n swart Suid-Afrikaanse vrou in ’n kroeg die k-woord genoem het.

Hy het later verskoning gevra, maar is steeds met R10 000 beboet en geskors vir ses maande, waarvan vyf opgeskort was.

Marais het op Van der Linde se nuutste uitlatings in die sosiale media ge­reageer deur in ’n Whats­App-boodskap te vra: “Toks, dit is inderdaad baie teleurstellend.

“Toe jy (destyds) die k-woord gebruik het, wie het jou gehelp? Is jy steeds ’n rassis?”

Van der Linde het geantwoord deur te sê: “Glad nie. Ek wens ek kan die WP help. Dis die provinsie waarvoor ek die tweede meeste games gespeel het.

Opreg

“Ek het my woorde vinnig verwyder. Ek kom oor die weg met alle spelers in die provinsie.

“Ek is baie jammer en vra om verskoning. Ek is beslis nie ’n rassis nie. Dit (die k-woord) is ’n slegte woord.

“Ek wens jou alles van die beste toe. Miskien ken ons nie die hele storie nie.

“Ek sê dus opreg dat ek jammer is. Ek wil net hê ons span moet goed vaar.

“Ek is nie ’n rassis nie, glo my.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters