2 maande gelede
Eindfluitjie vir Klaasen
GEDUG: Noel Klaasen (regs) en sy broer, Kevin, lyk intimiderend selfs op ’n rugbyprysuitdeling.  ~ Foto Verskaf

DIE bekende Klaasen-broers speel nou saam rugby in die hemel.

Die rugbygemeenskap van Ceres en die Wes-Kaap is die naweek in rou gedompel.

Dis omdat Noel Klaasen, een van die groot geeste in die sport, sy laaste asem uitgeblaas het.

Die voormalige slot van Boland en die destydse Saru Proteas-rugbyspan is Saterdag op 66 aan natuurlike oorsake oorlede.

Sy broer en voormalige burgemeester van die Witzenberg-munisipaliteit, Kevin, is vyf jaar gelede oorlede.

Vooruit

Noel, wat ’n onderwyser was, het destyds bekendheid verwerf vir die heldedade wat hy en sy broer op ’n rugbyveld kon verrig.

Sy naam het hom sterk vooruit geloop in Boland en die destydse Saru van die apartheidsjare.

Noel was tot en met sy afsterwe president van die Delicious-rugbyklub, waarby hy hom al in die 1970’s aangesluit het.

Noel en Kevin het nie net saam vir Deli­cious gespeel nie, maar ook Boland verteenwoordig.

Noel het een stappie verder gegaan deur Saru se Proteas-span te verteenwoordig.

Hy het ook vir sy geliefde Boland in meer as 150 wedstryde uitgedraf.

Noel het sy tersiêre studies aan die Oudtshoorn-opleidingskollege voltooi, waar hy ook as rugbyspeler vir die kol­lege-span uitgeblink het.

Daar is Noel se talente deur Saru-keurders raakgesien en hy is gekies vir die Suidwestelike Distrikte Liga-span.

Hy sou later terugkeer na Ceres en hom weer by Delicious aansluit. Kort voor lank is hy gekies om Boland te verteenwoordig en hy het sy eerste wedstryd teen die Oostelike Provinsie gespeel.

KLUB DAE: Agter tweede van links is Noel Klaasen tydens die neem van ’n spanfoto van die Delicious-rugbyklub se eerstespan. Sy broer Kevin is heel regs agter. Foto: Verskaf

In ’n verklaring oor Noel se heengaan sê die Boland-rugbyunie (BRU): “Dit is met groot hartseer dat die BRU verneem van die afsterwe van die oud-Boland-slot Noel Klaasen.

“In die Suid-Afrikaanse konteks is dit betreurenswaardig dat ’n speler soos Noel Klaasen nie die kans gehad het om in die geskiedenisboeke van alle Suid-Afrikaners ’n ware held te kon wees nie.

Helde

“Hy het egter in die destydse Saru ’n nalatenskap gelaat as een van die talle onbesonge helde van rugby se bydrae tot ’n nierassige Suid-Afrikaanse samelewing.

“Klaasen was een van die helde van die seëvierende 1988-Boland-span wat die SA Cup gewen het.

“Die span het die beker vir die eerste keer in 35 jaar vir Boland gewen.”

VAT VAS: Die Klaasen-broers, Kevin (links) en Noel (langs hom), sak toe op ’n teenstander in ’n wedstryd vir die Boland teen Westelike Provinsie. Foto: Verskaf

Oor sy ou Boland-spanmaat sê Francois “Kaballie” Davids, adjunk-president van SA Rugby: “Hy was ’n baie stil outjie, maar vreesloos.

“Hy’t nooit gemoan nie en altyd sy beste gelewer, al het die bloed geloop.

“Ek lag so stilletjies en onthou: Hy was een van die voorbokke toe ons vir die bestuur gevra het of hulle ons R30 sal betaal as ons die SA-beker wen.

“Die bestuur het teruggekom en gesê: ‘Julle is hier om rugby te speel.’

“Wel ons het die beker gewen en geen sent daarvoor gekry nie en Noel het een van sy beste wedstryde gespeel.”

Noel word Saterdag begrawe. Meer besonderhede oor sy begrafnis sal later bekend gemaak word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters