2 jaar gelede
Einde van pad?
weggelaat: Branco du Preez het nie die Blitsbok-span gehaal vir vanjaar se WB-toernooi nie. Foto: gallo images  ~ 

HOEWEL Neil Powell, afrigter van die Springbok-sewesrugbyspan, ’n ervare span vir vanjaar se Wêreldbekertoernooi gekies het, sal die weglating van ’n staatmaker steeds die wenkbroue laat lig.

Die Blitsbok-veteraan Branco du Preez is een van verskeie bekendes wat nie die paal gehaal het vir volgende naweek se WB-toernooi in San Francisco nie.

Kyle Brown, Cecil Afrika, Chris Dry, Seabelo Senatla, Tim Agaba en Stedman Gans mis uit weens beserings.

Kwagga Smith en Si­khumbuzo Notshe is glo weens Superrugby-verpligtinge nie oorweeg nie.

Geen verduideliking is verskaf oor Du Preez se weglating nie.

Powell kan egter nie blameer word daarvoor dat hy ervaring opsy stoot nie.

In die nuwe Blitsbok-sensasie Selvyn Davids het hy ’n speler wat in vanjaar se Wêreldreeks gewys het hy is ’n wedstrydwenner.

Davids het die vermoë om die rol as sweeper (skrumskakel) en spelskepper (losskakel) binne die span te vertolk.

Vir die Blitse sal dit beslis belangrik wees om verskeie opsies vir dié posisies te hê, veral nadat die ervare Afrika ’n langtermyn­besering (geskeurde dyspier) opgedoen het.

Dewald Human is, net soos Davids, iemand wat soortgelyke rolle in die span vervul.

Dít sal Powell toelaat om Rosko Specman (ook ’n sweeper) as vleuel in te span in die afwesigheid van die vinnige Senatla.

Siviwe Soyizwapi is die ander vleuel in die span.

“Ek is baie gelukkig met die samestelling van ons groep,” het Powell vanaf die Blitsbokke se oefenkamp in Mosselbaai gesê.

“Ons het die span saamgestel met die oog op vanjaar se toernooi, en hierdie 12 spelers het almal gewys hulle handhaaf goeie vorm.”

Vanjaar se WB-toernooi word op ’n uitklopbasis beslis, met Suid-Afrika se eerste wedstryd teen die wenner van ’n uitklopstryd tussen Ierland en Chili.

Die WB-toernooi word van 20 tot 22 Julie beslis.

Die Blitsbokke se uitklopstryd teen Chili/Ierland word op 21 Julie omstreeks 06:15 beslis.

Die Blitsbok-span is: Ryan Oosthuizen, Philip Snyman (k), Dylan Sage, Zain Davids, Werner Kok, Heino Bezuidenhout, Dewald Human, Rosko Specman, Justin Geduld, Selvyn Davids, Siviwe Soyizwapi, en Ruhan Nel.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters