14 dae gelede
Eienaar se dood spook by Tornado
sukkel: Die afrigter Tshepo Motsoeneng is onseker oor sy toekoms by Tornado ná die span se swak play-offs. Foto: GALLO IMAGES  ~ 

PLATGESLAAN.

Só beskryf die Tornado FC-breier, Tshepo Motsoeneng, sy span se geestestoestand ná laas week se mislukte veldtog vir promosie na die Nasionale Eerste Liga.

Tornado is in die halfeindronde van die ABC Motsepe play-offs in Kaapstad met 1-2 deur Hungry Lions van die Noord-Kaap geklop.

Die Oos-Londenaars het goeie rede om platgeslaan te voel. Hulle wou graag as huldeblyk vir hulle vermoorde eienaar, Siphiwo “Mawawa” Nyobo, promosie wen.

Nyobo is vroeër dié jaar in sy kar doodgeskiet ná Tornado se Tweede Liga-stryd.

Veg

Tornado het laas seisoen ook in die kwarteindronde van die play-offs uitgeval.

“Dinge kon baie anders gewees het, maar ons het ’n baie lang en harde seisoen gehad,” het Motsoeneng verduidelik.

“Ons moes met baie ander goeie spanne veg om die Oos-Kaapse kampioen te word.

“Die dood van ons chairman het beteken dat ons harder moes veg om die laaste wedstryde van die liga te voltooi.

“Ek dink sy dood het ons harder getref as wat ons gedink het. Met die afskop van die play-offs kon ek agterkom dat dinge verander het.”

Volgens Motsoeneng het sy spelers net nie dieselfde konsentrasie en energie gehad as vroeër die seisoen nie.

“Ek het probeer om die spelers te motiveer, maar niks het regtig gehelp nie. Ons het basiese foute gemaak in ál ons wedstryde, en dis nie soos ons speel in die liga nie.

“Dit was duidelik dat iets net nie reg is nie.”

Motsoeneng is ook onseker oor sy toekoms by Tornado.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters