7 dae gelede
Dweba raak driftig
GEFRUSTREER: Joseph Dweba sê die Cheetahs het hom nooit genoeg speeltyd gebied nie.  ~ Gallo Images

HAWIES Fourie, afrigter van die Cheetahs, sê die lug is gesuiwer met die haker Joseph Dweba, wat vroeër die week in ’n onderhoud uitgevaar het teen dié unie.

Dweba (24) is sedert 2015 by die Cheetahs, maar daar is verlede week bevestig dat hy na die klub Bordeaux Bègles in Frankryk skuif.

In ’n onderhoud met RugbyPass kritiseer Dweba die Cheetahs oor hoe hulle hom behandel het en sê hy is ’n “k*k kontrak” aangebied.

Fourie sê hy het sedertdien met Dweba gepraat en gesê daar is geen kwade gevoelens nie.

Hy het aan SA RugbyMag gesê: “Ek was teleurgesteld, veral as gevolg van ’n paar opskrifte wat sê die Cheetahs het hom ’n k*k kontrak aangebied. Dis nie waar nie en ook nie wat hy bedoel het nie.

“Hy het gepraat van ’n vorige kontrak, ek dink in 2017, wat vir die 2018-seisoen was, toe hy die derdekeuse-haker was.

Verhoging

“Wat ek gehoor het, is dat hulle hom destyds nie ’n groot verhoging gegee het nie of dat hy iets soort­gelyks aangebied is, en dít is die kontrak waarna hy verwys, nie die jongste een voor sy vertrek na Frankryk nie.

“Van die opskrifte was misleidend in die sin dat ons hom ’n baie goeie aanbod gegee het om hom hier in Bloemfontein te probeer­ hou.”

Dweba het baie harde woorde gehad vir Rory Duncan, wat in 2017 die afrigter was.

“Jammer vir my taalgebruik, maar ek is soveel keer in die verlede bevark,” het hy uitgepak. “Ek het ’n minuut (speelkans) hier gekry, twee minute daar; (ek) het nog nooit lank speeltyd gekry nie.

“Ek het na Harold Verster, die uitvoerende hoof van die unie, gegaan en vir hom gesê: ‘Jy is die enigste man wat ek hiervan vertel, maar ons (Dweba en sy vrou) verwag ’n baba. My kontrak verstryk en ek wil in die Vrystaat bly, so help my asseblief’.

“Hulle gee my toe presies dieselfde k*k kontrak.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters