12 dae gelede
Duane en Trevor terug vir Stormers-stryd
LEIERS: Nizaam Carr maak dalk Saterdag plek vir Duane Vermeulen as die kaptein van die Bulls.  ~ Gallo Images

JAKE White, rugbyafrigter van die Bulls, het bevestig dat sy span ’n hupstoot kan kry met die terugkeer van sy kaptein, Duane Vermeulen, en die Springbok-vaskopstut Trevor Nyakane.

Dit is vir Saterdag se Rainbow Cup-kragmeting met die Stormers in die Cape Town Stadium.

“Hopelik kry ons Trevor en Duane dié week terug. Dan is daar ’n paar ander ouens wat amper daar is. Ons sal dus kyk na die kombinasies en kyk wat ons dink die beste een is om die Stormers aan te durf,” het White Saterdag in ’n aanlyn konferensie ná sy span se oorwinning met 22-9 oor die Lions in Pretoria gesê.

Die voormalige Springbok-breier het ook gesê hy verwag ’n gekweste span Stormers vir Saterdag se Noord-Suid-derby in die Moederstad.

Die Stormers het hul veldtog in die Rainbow Cup begin met ’n naelskraapse nederlaag met 30-33 teen die Sharks.

Die Kapenaars het ’n voorsprong van 17 punte in die Cape Town Stadium laat glip toe die Sharks 4 drieë in 14 minute gedruk het.

John Dobson (afrigter) se span het hom lelik in die steek gelaat, aangesien Seabelo Senatla én Willie Engelbrecht met rooi kaarte van die veld gepos is.

Die senter Ruhan Nel het ook ’n gulde geleentheid verbrou om die game in die doodsnikke in die Kapenaars se guns te swaai. Nel het egter misgetas.

Gemotiveerd

Daarteenoor het die Bulls in Pretoria ’n oorwinning met 22-9 oor die Lions behaal.

White is egter bewus dat die Stormers alles in die stryd gaan werp om sake reg te stel ná hul teleurstellende nederlaag.

“Ek dink hulle gaan ná die nederlaag baie gemotiveerd wees,” het White gesê.

“Noord-Suid-derbies is in elk geval altyd moeilik. Kan jy jou net voorstel die terugslag wat hulle vandag (Saterdag) deurgemaak het?

Hulle het ’n paar rooi kaarte gekry en ’n geleentheid verbrou om die game in die doodsnikke te wen.

“Ek kan my voorstel dat hulle dalk baie seer sal wees en dat hulle daarvoor sal wil vergoed.

“Hulle het drie drieë teen die Sharks gedruk en kon ook in die doodsnikke gescore het. Nadat hulle 40 minute met 14 man gespeel het, is dit nie ’n slegte uitslag nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters