Verlede maand
Duane dalk losgelaat
ALS REG, TJOM? Duane Vermeulen (links) het hom gister by die Bokke aangesluit.  ~ Gallo Images

DIE Springbokke spring en hop weer met grasie nadat hulle die toetsreeks teen die Britse en Ierse Leeus Saterdag gelykop gemaak het.

Goeie nuus vir Bok-ondersteuners – en slegte nuus vir die Leeus – is die feit dat Duane Vermeulen, die vuurvreter-agtsteman, hom gister by die Bok-kamp aangesluit het.

Daar is dus ’n skrale kans dat hy Saterdag gereed en fiks sal wees om die Leeus te pak.

Jacques Nienaber, Bok-afrigter, sal egter enige moontlike kans aangryp om Vermeulen in te span indien die medici hom die groen lig gee om te speel.

“Duane sal hom vandag by ons aansluit en sal so gou moontlik medies geëvalueer word,” het Nienaber, gister in ’n verklaring gesê.

“Ons sal nooit waag met ’n speler wat nie 100% fiks is nie, maar hy bring ervaring na die span en dit sal wonderlik wees om hom by ons te hê.”

Vermeulen se plek in die beginspan is in die eerste twee toetse onderskeidelik deur Kwagga Smith en Jasper Wiese gevul.

Die feit dat Pieter-Steph du Toit ook vandag medies ondersoek word nadat hy ’n be­sering opgedoen het toe Duhan van der Merwe hom omgedop het, kan Nienaber en Rassie Erasmus baie gee om oor te dink.

As hulle egter die geleentheid sou kry om albei dié sleutelspelers in te span, sal die Springbok-ringkoppe nie huiwer om dit te doen nie.

Albei is in hul posisie van die bestes in die wêreld en hulle bring soveel vaardig­hede en ervaring na die span.

Smith en Marco van Staden is Saterdag juis as deel van ’n 6-2-verdeling van die reserwes in die tweede helfte losgelaat. Hulle het hulle laat geld, veral by die afbreekpunte.

Jake White, Vermeulen se afrigter by die Bulls, was Saterdag baie pessimisties toe hy oor sy moontlike beskikbaarheid gepols is.

“Hy het baie hard gewerk om te sien of hy volgende week beskikbaar sou wees vir die derde toets. Ek dink dit is waarskynlik ’n brug te ver,’ het die voormalige Springbok-afrigter gesê.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters