9 dae gelede
Duane dalk lank uit
Jacques Nienaber  ~ Gallo Images

DUANE Vermeulen gaan dalk nie betyds van sy enkelbesering herstel om in die toetsreeks teen die Britse en Ierse Leeus te speel nie.

Jacques Nienaber, die Springbok-afrigter, het bevestig die Bok-agtsteman het gister in Kaapstad ’n operasie ondergaan.

Volgens Nienaber kan Vermeulen dalk 5 tot 16 weke buite aksie wees.

Rehabilitasie

Nienaber het gister in ’n aanlyn konferensie gesê: “Ja, ek dink hy (Vermeulen) word vandag (gister) chirurgies behandel.

Die terugvoer wat ek gekry het, is dat die operasie hopelik goed verloop het en dan hopelik dat sy rehabilitasie goed sal gaan.

“Jesse Kriel het ’n soortgelyke besering gehad. Uiteraard kan ons nie beskermde inligting bespreek nie, maar dit is iets waarvan sommige spelers binne 5 tot 16 weke kan herstel. Dit hang af van die erns van die besering.

“Die chirurg sal weet sodra hy dit oopgemaak het en goed gekyk het wat daar binne aangaan.

“Soos ek gesê het, Jesse het ’n soortgelyke besering gehad net voor die World Cup in 2019 en hy was vinnig terug.

“Afhangend van die erns, kan dit nogtans ’n langdurige be­sering wees. Ons sal ná die operasie meer terugvoer kry.”

Soos dit nou staan, het die Springbokke wel dekking op nommer 8 in Jasper Wiese en Dan du Preez, wat in die groep van 46 spelers ingesluit is.

Marcell Coetzee kan ook opgeroep word indien dit nodig sou wees.

Nienaber het egter gister verduidelik dat die Bokke in dié stadium nie van plan is om enige plaasvervangers op te roep nie.

Nienaber het gesê: “Ons het daaroor gesels en gaan nie noodwendig nou iemand vir Duane inkry nie.”

Damian de Allende en RG Snyman, wat vir Munster in Engeland speel, het oor die naweek in ’n fratsongeluk brandwonde opgedoen.

Nienaber het hieroor gesê: “Ek het met Damian en RG gepraat en dit gaan goed met hul families.

“Hulle het oppervlakkige brandwonde en omdat ek drie jaar as fisioterapeut in ’n brandwondeenheid gewerk het, weet ek watter pad hulle nou gaan ervaar.

Aangemeld

“Hulle gaan Vrydag na die spesialis vir brande. As hulle kan reis en die nodige reëlings is getref, sal hulle in ’n vliegtuig kan klim en hulle binnekort by ons kan aansluit.”

Net die buitelandse Bokke, Malcolm Marx, Kwagga Smith, Franco Mostert, Kriel, Willie le Roux en Frans Steyn van die Cheetahs het hulle Sondag vir diens by die oefenkamp in Bloemfontein aangemeld.

Ná afloop van die Rainbow Cup-kompetisie in Suid-Afrika sal nog spelers hulle by die kamp aansluit.

Die volledige SA groep sal op Sondag 27 Junie bymekaarkom sodra ál die Europese spelers hul klubverpligtinge nagekom het.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters