6 dae gelede
Du Toit is integraal tot WP-plan
Pieter-Steph du Toit  ~ Gallo Images

DIE Stormers het gister bevestig Pieter-Steph du Toit gaan in die Kaap bly.

Wêreldrugby se speler van 2019 het laas week die opsie uitgeoefen om sy bestaande kontrak met die Westelike Provinsie te beëindig.

Die Springbok-flank het ander winsgewende aanbiedinge van Frankryk en Japan gekry.

Dit was egter altyd sy voorneme om ’n nuwe ooreenkoms met die unie aan te gaan.

Sedertdien het die partye onderhandel. Voor gister se aankondiging was Du Toit se toekoms nie vasgemaak nie.

Luidens ’n verklaring van die Stormers het Du Toit sy kennis­gewing oor die beëindiging van die kontrak teruggetrek.

Hy sal nou by die Stormers bly tot die einde van die 2021-toer van Britse en Ierse Leeus-toer in Suid-Afrika.

Billike

André van der Veen, ’n bestuurslid van die Stormers, het gesê hoewel daar baie hard gewerk is om die ooreenkoms te bereik, is dit bevredigend om ’n besluit aan te kondig wat al die betrokkenes pas.

“Pieter-Steph wou altyd by die Westelike Provinsie Rugbyunie bly. Hy is ’n ware span-man wat ’n integrale deel van ons planne by die WP Rugbyunie is.

“Ons is daartoe verbind om ’n billike oplossing vir hom en die hele span te vind en ons is bly om dit amptelik te kan bevestig,” sê hy.

John Dobson, afrigter van die Stormers, sê dis kritiek om ervare spelers van wêreldgehalte soos Du Toit en die ander sewe wenners van die Wêreldbeker in die groep te hou. Hy meen dit speel ’n belangrike rol in die visie om die rugbygemeenskap in die Kaap te beloon met ’n span waarop hulle trots kan wees.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters