5 maande gelede
Druk nou op Engelse
Jonny May  ~ AP

DURBAN. – Engeland bevind hom op die oomblik in ’n desperate si­tuasie om ’n swak 2018-seisoen om te keer.

Volgens Jonny May, haastige vleuel van die Engelse span, is hy en sy spanmaats ná vier agtereenvolgende neder­lae in toetswedstryde met die rug teen die muur.

Die Springbokke het die eerste toets van die Engelse toer met 42-39 in Johannesburg gewen.

Die tweede toets vind Saterdag in Bloemfontein plaas.

Die ervare May glo as Enge­land nie Saterdag sy dissipline opskerp nie, gaan hulle nog ’n reeksnederlaag in Suid-Afrika beleef.

Die Rose se laaste sege vanjaar was teen Italië in die Sesnasiesreeks.

In 2014 het die Engelse ook so ’n swak seisoen beleef. Toe het hulle onder die breierskap van Stuart Lancaster vyf toetse verloor.

Volgens May is die span van Eddie Jones (afrigter) bewus daarvan en kan dit eenvoudig nie toegelaat word nie.

“Ons almal weet wat op die spel is en wil beslis nie vyf toetse op ’n streep verloor nie,” het May gesê.

“En ja, die druk is op ons en die manne is dalk ’n bietjie senuagtig.

“Ons erken dit is dalk ’n desperate situasie dié, maar ons sal net moet seker maak ons raak nie paniekbevange nie. Dit kan tot ’n situasie lei waar sekere spelers te hard probeer. Dit sal veroorsaak dat hulle foute maak en strafskoppe afstaan.

“Die aspekte van die spel wat ons tans kniehalter, is dinge wat ons egter self kan regstel.”

May, wat Engeland sedert 2013 in 35 toetse verteenwoordig het, was vol lof vir die Bokke se jong vleuels Aphiwe Dyantyi en S’bu Nkosi. “Ek het beslis van hul (Nkosi en Dyantyi se) ver­moëns geweet. Hulle val die spasie aan en is baie gevaarlik met die bal in hand.

“Ons het geweet as ons hulle ’n bietjie ruimte gee, gaan hulle ons laat bontstaan. Hulle is albei baie moeilik om vas te vat wanneer hulle op volle vaart is.”

In die eerste 20 minute van die Johannesburg-toets het Dyantyi en Nkosi nie in die wye kanale goed verdedig nie. May is daarvan oortuig die Bokke sal dit regstel.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters