Verlede maand
Dreyer weer pure spiertier
Faldie Dreyer  ~ Foto Verskaf

DIE Westelike Provinsie se voorste bodybuilders was Saterdag weer op hul stukke tydens die jaarlikse Sunfest-byeenkoms in Parow se gemeenskapsaal.

Talle het gewys dat 2022 ’n groot jaar kan wees en dat die WP dan ’n veel groter faktor by die SA kampioenskapsbyeenkoms gaan wees.

Een van die groot uitblinkers was Faldie Dreyer van Atlantis wat sy stempel behoorlik afgedruk het in die meestersafdeling vir spiermanne 40 jaar en ouer.

Die 44-jarige Dreyer was by die onlangse SA kampioenskapsbyeenkoms in Randburg derde in sy afdeling. Hy lyk oorgehaal om volgende jaar die goue medalje te wen.

Rodney Moses was oudergewoonte ’n groot gunsteling. Hy het die o. 90 kg-afdeling gewen met Mark Whelan tweede.

Soos verwag het die vrouedeelnemers mekaar weer behoorlik opgekeil en gewys die kompetisie tussen hulle word al sterker.

Die kompetisie is weereens behartig deur die veteraan-omroeper Sam Roy, wat nou al meer as 20 jaar as aankondiger met die hulp van Shameen Adams seker maak alles verloop seepglad.

Die laaste kompetisie vir die jaar is die Arnold Classic wat van 19 tot 21 November in Randburg gehou word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters