8 dae gelede
Donker dae wag
Siya Kolisi  ~ Gallo Images

’N MASSIEWE uittog van spelers kan slegte gevolge vir die Westelike Provinsie-rugbyspan hê as dié unie se base nie hul huis in orde kry nie.

Só sê Eugene Eloff, voormalige afrigter van die Junior Springbokke en Lions, oor die gerugte dat die Springbok-kaptein, Siya Kolisi, en ander Springbokke verbonde aan die WP dalk dié unie vir groener weivelde kan verlaat.

Kolisi se moontlike skuif na die Sharks was dié naweek hoofnuus nadat MVM Holdings ’n 51%-aandeel in die Durbanse rugbyunie gekoop het – die einste MVM wat ’n beherende aandeel in die WPRU se sakevleuel wou koop.

Kontrak

Een van MVM se aandeelhouers, Michael Yormark, is die president van Roc Nation – ’n sport- en vermaakagentskap waarvan Kolisi en die Bok-vleuel Cheslin Kolbe kliënte is.

Kolisi se kontrak as WP- en Stormers-speler verstryk na bewering aan die einde van Junie.

Daar is vrese dat WP Rugby nie genoeg kapitaal in die bank gaan hê om hom en ander sterre soos Pieter-Steph du Toit, Bongi Mbonambi, Steven Kitshoff, Frans Malherbe, Damian Willemse en Herschel Jantjies te kontrakteer nie.

Terselfdertyd moet WP Rugby ook probeer om ’n siviele saak teen die Flyt Property Group te wen.

Flyt eis skadevergoeding van sowat R500 miljoen nadat WP Rugby kop uitgetrek het in ’n ooreenkoms met dié eiendomsontwikkelaar om eiendomme te herontwikkel wat deur die unie se amateur-afdeling besit word.

“As ’n mens so lees oor al die gerugte wat in die media die ronde doen, dan kom jy tot die slotsom dat daar iets fout is,” het Eloff gesê.

“En as die WP nie gou sy huis in orde kry nie, kan dit tot ’n tydperk lei waar hy vir lank nie ’n mededingende span in die veld kan stoot nie.

“As jy soveel topspelers gaan verloor, laat dit ’n vakuum waar dit tot vyf jaar se herbou kan lei voor jy weer ’n mededingende span op die veld kry.”

Lewe

Oor die moontlikheid dat Kolisi na die Sharks kan skuif, voel Eloff dit kan ’n goeie skuif wees, aangesien die Bok-kaptein sedert 2019 se Wêreldbekertoernooi nog nie weer sy beste rugby gespeel het nie.

“Soms as ’n speler skuif, kry hy nuwe lewe. In die geval van Siya was daar sedert die Wêreldbeker baie distractions weg van die veld waaraan hy moes aandag gee en ’n mens kan sien dit beïnvloed sy spel.

“ ’n Skuif kan dus goed wees en boonop ook goed vir die Sharks, wat ook ernstig praat oor talent in die Oos-Kaap ontwikkel,” het Eloff gesê.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters