2 maande gelede
Bulls oordonder Stormers
rugby,super rugby unlocked,bulls,stormers,
Spelers verlaat die veld weens donderweer. FOTO: Lee Warren/Gallo Images  ~ 

'N DONDERSTORM het Saterdagaand die Stormers van verdere vernedering gered nadat die Bulls die Kapenaars in ’n Superrugby Unlocked-kragmeting met 39-6 op Loftus Versfeld in Pretoria behoorlik kafgedraf het.

Die span van Pretoria was met die rustyd reeds met 32-6 voor.

In die 63ste minuut het die skeidsregter, AJ Jacobs, geen keuse gehad om die spelers te vra om die veld te verlaat omdat 'n donderstorm losgebars het. Die weerlig sou ’n groot gevaar vir almal op die veld inhou. Daar is dus besluit om die game vroegtydig te staak.

Die Pretorianers het die kragmeting heeltemal oorheers en al was daar nog sowat 20 minute se speeltyd oor, sou dit hoogs onwaarskynlik gewees het dat John Dobson (afrigter) se span met 'n terugvegpoging vorendag sou kom.

Jake White (afrigter) se manne het meer balbesit geniet. Hulle het met voortreflike spel vorendag gekom.

Die Ligbloues het die Kapenaars voorlangs in toom gehou. Hul voorspelers en agterspelers het ook puik gekombineer om altesaam vyf drieë te druk vir ‘n bonuspunt-sege.

Met die veteran-losskakel Morné Steyn aan die spits, het die Pretorianers altesaam vier keer in die eerste helfte agter die Kapenaars se doellyn gaan kuier.

Dit was duidelik dat dit Stormers se plan was om in die Bulls se halfgebied te speel. Die losskakel, Damian Willemse, en die heelagter, Warrick Gelant, het die skopstewel ingelê, maar alles het ongelukkig nie volgens plan verloop nie.

Elke keer wanneer Steven Kitshoff (kaptein) se manne probeer het om die bal te dra, kon hulle net eenvoudig nie hul ritme vind nie.

Hulle het gesukkel om aan die gang gekom te kom. Hulle het by tye die bal deur talle fases gedra het, maar het ongelukkig foute op kritieke tye gemaak en onnodige strafskoppe afgestaan.

Dit the gelyk asof die Stormers nie ’n plan B gehad het nie.

Die Bulls se eerste drie van die haker, Johan Grobbelaar, het van ’n goed beheerde dryfmaalbeweging van ’n lynstaan in die 22ste minuut gekom.

Die vlugvoetige buitesenter Stedman Gans het in die 28ste minuuut die Bulls se tweede drie gedruk na ’n uitstekende aangee van Steyn.

Hierna was dit Gans wat die bal in die getackle lewend gehou het vir die skrumskakel, Ivan vasn Zyl se drie in die 33ste minuut.

Die slot Ruan Nortjie het net voor die rustyd gaan score nadat Steyn met ’n deftige steekskoppie vorendag gekom het. Hy het die bal self opgeraap en Nortjie weggestuur vir die tuispan se vierde drie.

Die Bulls het hul puik spel in die tweede helfte voortgesit. Gans, wat agterna welverdiend as die speler van die wedstrtd aangewys is, het die Bulls se vyfde drie en sy tweede vyfpunter van die game gescore nadat Steyn weer met ’n perfek geplaasde steekskoppie vorendag gekom het.

Al wat die Kapenaars vir hul moeite kon wys was twee strafdoele deur Willemse.

puntemakers

STORMERS - strafdoele: Damian Willemse (2)

BULLS – drieë: Johan Grobbelaar, Stedman Gans (2), Ivan van Zyl, Ruan Nortje, doelskoppe: Morné Steyn (4)

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters