6 dae gelede
Dok: Tyler se nek is te gekrok
Tyler Bleyendaal  ~ Getty Images

DIE begaafde Nieu-Seelandse rugbyspeler Tyler Bleyendaal is weens ’n nekbesering verplig om sy stewels vroeg weg te pak.

Die voormalige losskakel van die Crusaders het hom in 2015 by Munster in Ierland aangesluit.

Hy het gister bevestig hy hou weens mediese advies op met speel.

Die 29-jarige sê op Munster se webwerf: “Dit was baie moeilik om te erken dat ek moet ophou rugby speel. Die besluit is egter nou uit my hande.

“Dit is ’n mediese besluit. Dit is die regte besluit.

“Dit maak dit nie makliker nie, want rugby is ’n groot deel van my lewe, maar ek weet ek het dit absoluut alles gegee.

“Ek en my vrou, Laura, het na Ierland verhuis.

Opgebou

“Dis letterlik aan die ander kant van die wêreld. Ek weet ek het ten minste die voorreg gehad om vir 10 jaar beroepsrugby te speel.

“Ek is baie dankbaar vir al die ervaring wat ek opgedoen het, die vriendskappe en die verhoudings wat ek in my tyd opgebou het.”

Bleyendaal, wat ’n geskiedenis van nekprobleme het, het sedert November 2019 nie gespeel nie.

“Dit moes op ’n sekere tyd eindig, en dit was ongelukkig nie op my voorwaardes nie, maar ek het die vermoë gehad om vir die toekoms te beplan en baie tyd tuis saam met my gesin deur te bring,” het hy gesê.

Die veelsydige Bleyendaal is ’n voormalige Nieu-Seelandse o. 20-speler. Hy het vir Munster op losskakel en binnesenter uitgedraf en die span 11 keer aangevoer.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters