8 dae gelede
Djokovic wys hy is ook maar net mens
EMOSIE: Novak Djokovic in trane ná sy nederlaag teen Daniil Medvedev.  ~ AP

TOE Novak Djokovic met ’n handdoek oor sy gesig ’n traan sit en stort voor sy nederlaag in die eindstryd van die Amerikaanse Ope, het die Serwiër weer sy menslikheid ten toon gestel.

Rusland se Daniil Medvedev het Djokovic in skoon stelle (6-4, 6-4, 6-4) in die Arthur Ashe-stadion in New York geklop. Dit is Medvedev se eerste Grand Slam-sukses.

Hy het met sy sege vir Djokovic van die groot eer ontneem om al vier Grand Slams in ’n kalenderjaar te wen, en ook die rekord vir die meeste Slams sy eie te maak.

Djokovic deel dié rekord vir die meeste Slam-titels (20) met Roger Federer en Rafa Nadal.

Dat hy dit nie Sondagaand kon doen nie, was beslis hartverskeurend vir hom. En dit boonop nog op die een aand waar hy tot meeste verbasing die ondersteuning van die Flushing Meadows skare geniet het.

Djokovic is, soos die Engelsman sal sê, “not every­ones cup of tea” as dit kom by aanhangers, maar dié jaar het hy die meeste aanhangers se respek afgedwing met wat hy vermag het.

Verandering

Die druk op hom om dit vier Grand Slam-titels te maak, sou sekerlik massief gewees het, want dit is ’n speler wat hoë verwagtinge vir homself skep.

By die finale verandering van kante, en Medvedev wat vir die derde stel en die titel moes afslaan, het Djokovic sy handdoek oor sy gesig gegooi en begin huil.

Hy het besef hy het sy alles gegee, maar dat ’n sege nie hom beskore sou wees nie.

Die legendariese John McEnroe het dit ook in ’n onderhoud met ESPN beaam.

“’n Kampioen het ’n goeie voorgevoel vir (spanning), Medvedev het dit gesien,” het McEnroe gesê.

“Ons het gesien hoe Novak huil – hy het, en ek het geglo hy kan, dié Grand Slam-titel wen.

“Jy kon die menslike kant van hom sien en hoe moeilik dit is - dit het hom ingehaal.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters