6 dae gelede
Dit kos om ’n speler te ontwikkel
Scott Johnson  ~ Gallo Images

SCOTT Johnson, Australië se direkteur van rugby, sê dit is tyd dat Wêreldrugby ’n oordragfooi-stelsel instel om klubs en lande vir verlore talent te vergoed.

Johnson het vandeesweek aan The Australian gesê binnelandse unies kan gerus ook oordragfooie oorweeg.

“Die tyd het aangebreek vir Wêreldrugby om nou na transfer fees te kyk,” het Johnson gesê.

“Dit kan selfs intern (tussen klubs in dieselfde land) geskied. As jy ’n speler ontwikkel, moet jy daarvoor vergoed word.”

Johnson probeer ’n vredesooreenkoms tussen Brad Thorn, afrigter van die Reds, en Izack Rodda, bewerkstellig. Rodda is een van die spelers wat nie ’n salarisverlaging wou aanvaar nie.

Laitie

Johnson glo daar moet ’n ontwikkelingsfooi aan rugbyunies betaal word wat ’n speler tot die ouderdom van 24 jaar aan ’n oorsese klub verloor.

Hy sê: “Selfs wanneer ’n mens na (Wêreldrugby) se ancestry laws kyk, is dit moontlik dat jy ’n laitie vir 10 jaar ontwikkel.

“Maar omdat hy, byvoorbeeld, van Britse afkoms is, kan hy net oorstap.

“Nee, nee, nee, ek glo daar moet betaal word vir hul ontwikkeling.”

Oordragfooie was lankal ’n ernstige probleem vir die unies van die Stille Oseaan-eilande, wat spelers aan Superrugbyspanne en Europese klubs verloor.

Nieu-Seeland en Suid-Afrika verloor ook talentvolle spelers aan Europa en Japan. Dis veral die jonger spelers wat die pad vat.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters