5 dae gelede
‘Dit grens aan misdadigheid’
bennett baileyFoto: MARK WARD  ~ 

DAAR is ’n herrie in die indoor soccer scene.

En dis alles oor spelers wat hulle beskikbaar stel om vir vermeende rogue organisasies en entiteite te speel.

Dis nadat ’n span van die so­genaamde Suid-Afrikaanse Futsal­federasie (SAFF) die land onlangs in die Wêreldbeker-futsaltoernooi vir o. 20’s in Colombië verteenwoordig het.

Die ironie is dat dié span wel uit Suid-Afrikaanse spelers bestaan.

Hulle is egter nie deur die verskeie beheer­liggame soos Safa of Safa­ Cape Town gekies of Caf-geakkrediteer nie.

SAFF is met ’n wêreld­beheerliggaam, AMF, geaffilieer.

Die erkende organisasie in die land, die South African Indoor Futsal Association (SAIFA), geniet egter die erkenning van Safa, Safa CT, Caf en Fifa.

Die SAFF het ook geen bande met die grootste en vernaamste beheer­liggaam, Fifa, nie.

So, dat die SAFF onder die land se naam en in sy kleure speel, word as ’n groot klug beskou.

Die jong spelers speel dus op hulle eie risiko vir die SAFF en dit hou slegte nagevolge in vir hulle en hulle families.

Boonop moes ouers en ander sowat R40 000 opdok sodat hulle laities “Suid-Afrika” in Suid-Amerika kon gaan verteen­woordig.

Maar hoe getrans­formeer is die span ook regtig? Daar is ’n siening dat die SAFF niks minder as ’n rogue organisasie is nie en dat hy die indoor-sokker­publiek mislei omdat die spelers ook nie caps sal kry nie.

Bennett Bailey, president van Safa CT, sê hulle is bereid om met die betrokke partye te gesels sodat hulle ’n gemeenskaplike verstandhouding kan uitwerk.

Bailey het gister gesê: “Wanneer enige organisasie onder Safa of Safa CT se banners speel, is dit gratis.

“Die spelers en ouers moet ook wonder wat gebeur as ’n speler siek word of ’n hartaanval kry.

Grondwet

“Weer eens, as dit onder ons vaandel gebeur, bied ons ver­sekering en ’n begrafnispolis.

“Ongelukkig speel spelers wat lid is van organisasies wat nie by ons geaffilieer is nie, op hulle eie risiko – dís kragtens ons grondwet.”

Safa CT het onlangs ook ’n brief aan die verskeie LFA’s gestuur.

Daarin maan hy klubs en spelers om nie betrokke te raak by nie- geaffilieerde entiteite en toernooie wat nie deur hom of Safa goedgekeur is nie.

Bailey sê: “Kyk, ons weet sekere LFA’s funksioneer nie soos hulle moet nie, dis juis waarom ons weer met hulle wil gesels, en veral met die spelers wat skuldig is aan dié oortreding.

“As hulle dit voortaan weer doen, is dit mos soos misdadige gedrag en daar sal dan strenger teen hulle opgetree word.”

Bailey was nie spesifiek oor die optrede nie, maar het skorsing as ’n voorbeeld genoem.

Hy meen weens – of dalk danksy – die droogte in die provinsie het indoor futsal ook gewilder geword onder die sokkermal publiek.

“Dit help natuurlik met die ontwikkeling­ van spelers,” sê Bailey.

“Hulle moet ’n goeie skill set hê, soos om die bal te trap en futsal-spelers moet vinnig op hulle voete dink in beperkte spasie.

“Dit help spelers ook om self­vertroue te ontwikkel. Dis beslis ’n positiewe inisiatief en ’n sportsoort wat sal bydra tot sokker in die land.”

Bailey sê Safa CT wil onder geen omstandighede ander organisasies afkraak nie.

Verskil

“Nee, beslis nie,” sê hy. “Dis net belangrik om die publiek ingelig te hou, jy weet.”

Byron Cottle, ’n senior lid van die SAFF en afrigter van die o. 20-span­, sê daar is hoegenaamd geen beef tussen hulle en die SAIFA nie.

Cottle het gister gesê: “Kyk, hulle is indoor en ons is futsal, en wat my betref is daar ’n verskil.

“Ons is ’n lid van die AMF, wat ons wêreldbeheerliggaam is.

“Futsal het in 1930 in Uruguay ontstaan toe Juan Carlos Ceriani ’n five-a-side-wedstryd vir jong mense gereël het.

“En die res is geskiedenis.”

Cottle reken sy span het ook nie te sleg gevaar in die toernooi in Colombië nie.

Hy spog: “Ons was sesde onder 12 spanne. Ek dink ons het goeie rekenskap van onsself gegee.

“Maar ons het nog ’n lang pad om te stap omdat ons nog agter is. Ons is ’n klein federasie, nes volleyball.

“Ons moet, net soos hulle, vir ons eie vliegkaartjies betaal. Toe ons in Colombië aankom, het die AMF darem ons akkommodasie uitgesort.

“Jy moet onthou, die res van die wêreld speel al baie lank dié sportsoort; ons begin dit nou eers doen.

“Dis ook juis daarom dat Suid-Amerikaanse sokker van so ’n hoë peil is. Dis omdat hulle fantastiese futsal-spelers het met ongelooflike skills.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters