13 dae gelede
Dis wawyd oop
hy’s myne! Zinedine de Kock van Blackpool beheer die bal terwyl Lesley Jansen van Swallows toekyk.Foto’s: charles pullen  ~ 

SPANNE spook nou om die Northern Areas Football Association (Nafa) se Mala Mooda­ley-kampioen te word.

Met die Premierliga se titel reeds in Sibanye se trofeekas is dit die Nor­th­erns se eie weergawe van die FA Cup wat nou die aandag trek.

En ’n nuwe kampioen gaan vanjaar gekroon word. Park Unit­ed – laas jaar se wenner – is die afgelope naweek uitgeskop.

United het sy rieme styfgeloop teen Stardrift, wat met 3-1 geseëvier het.

Glenville Celtic, wat effe in die Premierliga gesukkel het, moes met strafdoele met Helenvale klaarspeel. Die wedstryd het 0-0 geëindig voordat Glenville met 4-2 van die strafdoelmerk gewen het.

Die Glenville-hulpafrigter, Maurice da Costa, sê die span mik vir die trofee.

“Ons het ’n paar sleutelspelers aan Chippa United se MDC-span afgestaan wat ons liga-planne ’n bietjie beïnvloed het. Veral die loss van ’n speler soos Diego Appollis, wat nou goed doen vir Chippa,” sê Da Costa.

Hy sê wel die span se fiksheid en taktiese benadering is wat hom verby Helenvale gekry het.

“Helenvale was die laaste groot span in die toernooi. So, nou kan enige een dit vat. Ek moet wel ons doelwagter Dawood Dolley prys. Hy was uitstekend in die wedstryd,” laat hoor Da Costa.

Die halfeindstryde van die Mala Moodaley word Vrydag beslis.

Swallows pak Fairdene, terwyl Glenville en Stardrift mekaar gaan aanvat.

Albei semi’s skop 21:00 by die Fairview-sportgrond af.

Die Mala Moodaley-uitslae is: Glenville 0, Helenvale 0 (Glenville wen 4-2 met strafdoele); Stardrift 3, Park United 1; Swallows 1, Blackpool 0; Fairdene 2, West Lake 1.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters