12 dae gelede
Dís waarom Bokako loop
Tladi Bokako wil sy stempel vir die Cape Cobras afdruk.Foto: theo jeptha  ~ 

TLADI Bokako wil die geleentheid gebied word om sy stempel in krieket se korter weergawes af te druk.

Dís waarom die 25-jarige naatbouler die Warriors vir die Cape Cobras verruil het.

Bokako, wat ’n Oos-Kapenaar in murg en been is, het verlede seisoen uitgeblink vir die Warriors in die plaaslike meerdaagse reeks.

Dit was dus ’n verrassing toe die man van Motherwell bekend gemaak het hy vat die pad.

Bokako en die Warriors verskil blykbaar oor sy vermoëns in die korter weergawes van die spel.

Die Warriors se afrigter, Rivash Gobind, sê: “Ons is effens teleurgesteld dat hy nie meer by ons is nie.

“Tladi het in ons stelsel ontwikkel, maar voel hy moes speelkans in die korter weergawes gekry het.

“Vir die korter weergawes het ons egter baie naatboulers van gehalte in ons groep. So, dit was vir hom moeilik om ’n speelkans te kry.

“Hy voel dus dis beter vir die bevordering van sy loopbaan om ’n skuif te maak.

“Ons respekteer sy besluit en wens hom voorspoed toe.”

Bokako het in sewe meerdaagse wedstryde verlede seisoen uitgeblink.

Hy het 22 paaltjies ingeoes teen ’n gemiddelde 24,31 lopies­ per paaltjie en ’n ekonomiese gemiddelde 3,54 lopies per boulbeurt afgestaan.

Nuwelinge

Hoewel hy aan die einde van die seisoen ’n gereelde lid van die meerdaagse span was, kon hy egter nie een eendaagse of T20-wedstryd speel nie.

Benewens die Warriors se gereelde staatmakers is nuwe­linge soos Lutho Sipamla, Clayton Bosch, Si­thembile Langa en Solo Nqweni boonop bo hom verkies vir die korter weergawes.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters