2 maande gelede
Dis United en Barça
groot druk: Paul Pogba sal ’n barshou moet speel as Manchester United oor Barcelona wil seëvier.Foto: gallo images  ~ 

DIE Red Devils het nog ’n laaste kans om dié seisoen ’n titel te wen.

Maar Manchester United sal vandag in die Uefa Cham­pions League met ’n bomens­like vertoning vorendag moet kom om Barce­lona uit te skakel.

Die Red Devils pak Barça in hulle Camp Nou-vesting in die tweede been van dié spanne se kwarteindstryd.

Die Blaugrana het die eerste been op Old Trafford met 1-0 gewen. Hulle is die hot favourite om vandag weer te wen.

Dit beteken Ole Gunnar Solskjaer, bestuurder, se Man U-span moet Barça met twéé doele klop as hulle na die halfeindstryd wil vorder.

Die Red Devils moes in die ronde van die laaste 16 ook ’n agterstand uitwis om die kwarteindronde te haal.

Inspirasie

Hulle het Paris Saint-Germain in Parys met 3-1 geklop nadat hulle die eerste been tuis met 0-2 verloor het.

Solskjaer sê egter die span se vorige uitslag teen PSG was goed, maar Barcelona is ’n ander soort span.

“Ons kan inspirasie put uit daai game en ons oorwinning weg teen Juventus, maar Barcelona het spesiale spelers. Én hulle speel tuis,” het Solskjaer gesê.

Sy sterspelers Paul Pogba, Marcus Rashford en Romelu Lukaku sal hulle beste moet gee om Lionel Messi en Luis Suárez stil te hou.

Snaaks genoeg het Suárez vanjaar nog geen doel in die Champions League aangeteken nie. Tog spog hy reeds met 23 doele in Spaanse kompetisies. Messi was ook verbasend stil in die vorige game.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters