11 dae gelede
Dis nie ’n game
NIKS SOKKER: Curtley Vernon (links) van Stardrift en Bulumko Ceki van Sibanye in aksie in die Mayoral Cup – voordat alles op ys gesit is.  ~ Charles Pullen

DIE Oos-Kaapse sokkerspanne moet lig loop en minder stout wees in die tyd van Covid-19, waarsku Safa Oos-Kaap.

Volgens Safa Oos-Kaap volg ’n paar plaaslike spanne nie die reëls wat die sokkerbeheerliggaam uiteengesit het om die verspreiding van die nuwe corona-virus te help beveg nie.

Safa het op 17 Maart alle sokker-aktiwiteite op alle vlakke gestaak. Dít volg nadat pres. Cyril Ramaphosa op Sondag 15 Maart gesê het by geen geleentheid mag meer as 100 mense bymekaar wees nie.

Kommer

“Dit is onder Safa se aandag gebring dat daar in sekere areas steeds spanne is wat sokker speel. Dit is ’n groot kommer.

“Ons herinner spanne aan die standpunt van die beheerliggaam, soos gekommunikeer deur die president van Safa, dr. Danny Jordaan, en die waarnemende uitvoerende hoof van Safa, Thamsanqa Gay Mokoena, oor die erns van die corona-virus,” lui die verklaring van Safa.

Volgens die verklaring moet sokkerspanne ernstiger wees met die implementering van die reëls, anders kan die spanne beboet of geskors word.

“Die gevaar is dat die virus onder baie spelers, beamptes en toeskouers versprei kan word. Sokker is ’n kontaksport; daarom versoek ons lede om te verseker dat daar geen sokker-aktiwiteite in hulle onderskeie gebiede is nie.

“Laastens dien hierdie kommunikasie om te bevestig dat daar drasties opgetree sal word teen enige een wat versuim om die riglyn te volg.”

Spanne kon ná 17 Maart nog oefen. Dis nou gestaak, want die meeste beroepspanne se spelers oefen op hulle eie om fiks te bly vir indien bedrywighede later in die jaar hervat word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters