Verlede maand
Dis ’n klap in gesig
Hugo Broos  ~ BACKPAGEPIX

DAAR kan net gewonder word hoe lank die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (Safa) sy coach, Hugo Broos, se onlangse twiets gaan verduur.

Terselfdertyd wonder ’n mens ook wanneer Broos se geduld gaan uitloop met Safa oor sy werksituasie.

Dit blyk Broos het in sy eerste maand in beheer van SA nou alles gesien:

Hoe sy span se friendlies willy-nilly gekanselleer word; spelers wat nie opdaag vir kampe of enige kommunikasie verskaf nie; en sokkeragente wat hom wil voorsê watter spelers hy moet kies.

Dit is waarskynlik waarom Broos sy ontevredenheid oor hierdie aspekte op sosiale­media-platforms uitspreek.

Die 69-jarige Belg voel dat hy nie die nodige ondersteuning en respek van sy werk­gewer kry nie.

Broos het die land se sokkerbase aan die voordele herinner wat dit inhou as Bafana Bafana op internasionale vlak presteer.

“Ek hoop dinge sal in die volgende maand verander en dat ek meer samewerking sal kry,” het Broos gesê.

Intussen sê Farouk Abrahams, voormalige nasionale coach van die doelwagters, dat Broos die norm verbreek deur uitgesproke te wees. Dis iets wat normaalweg nie gebeur nie.

“Dit is ’n klap in sy base se gesigte. Gewoonlik bly die coaches mos maar net stil.”

Abrahams meen dat Bafana Bafana se treurmare in die verlede ook nie Broos se vooruitsigte makliker maak nie.

Kwalifiseer

“Ek hoop hy maak dit,” het Abrahams gesê.

Broos-hulle moet nog twee groepwedstryde speel en indien Bafana Bafana in hul groep bo eindig, wag daar nog een ronde oor as die span vir Katar wil kwalifiseer.

Maar dit is in die derde ronde waar dinge gewoonlik skeefloop, met al die groothonde van Afrika-sokker wat dan wag.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters