8 maande gelede
‘Dis ’n geloofsprong’
Marco Masotti  ~ Foto Verskaf

MARCO Masotti beskou dit as ’n groot geloofsprong om sowat R100 miljoen in die Stormers-franchise te belê.

Masotti, wat in Amanzimtoti gebore is, het gister uit New York met Son gepraat oor MVM Holdings, wat 51% in die sakevleuel van WP Rugby wil bekom.

Hy sê: “Dit is ’n groot leap of faith wat van my en die res van die konsortium se liefde vir rugby kom.

“Ek sien die potensiaal en die geleentheid wat die belegging inhou. Voordat ek die deal gesign het, het ek op rekord gegaan dat dit nie ’n leenooreenkoms is nie.

“Ek sal nie daarin belê as dit eintlik ’n lening is nie. Ek weet nie waarom mense dit sê nie.

“Dis ’n belegging in die maatskappy sodat die langtermyngroei daarvan bewerkstellig kan word.

“ ’n Lening is iets wat ’n bank toestaan wat oor ’n sekere tydperk terugbetaal moet word. Dit kan 5 jaar, 10 jaar of 15 jaar wees.

“In dié geval hoef daar niks terugbetaal te word nie. As die besigheid egter winste maak, kan die besigheid dividende uitbetaal.”

Volgens Masotti sal die ooreenkoms so gestruk­tureer word dat daar iets vir almal sal wees. Soos enige besigheid sal geld van tyd tot tyd aan die belegger uitbetaal word.

Masotti meen as hulle sukses behaal, sal die unie, die klubs, die Stad Kaapstad en die besighede in die omgewing almal voordeel daaruit trek.

Oorskadu

“Ons wil graag hê almal moet daaruit benefit. Daar moet incentives wees vir die spelers en aandeelhouers.

“Daar is reeds ’n leenoorkoms wat aan die maatskappy toegestaan is. Dit is om dié rede dat ons belegging daardie lening oorskadu.

“Dit is ’n ingewikkelde issue in Suid-Afrika wat ek ten volle verstaan.

“Suid-Afrika is uniek. Jy moet ’n groot boot probeer bou en ál die belanghebbendes probeer kry om in die regte rigting te roei.

“Ek het dalk nie al die antwoorde nie.

“Ek het ’n besigheidsplan saamgestel en dit aan Zelt Marais (WP Rugby se president) en sy span gestuur.

“Mense is gewoonlik opgewonde as so ’n geleentheid kom, veral in ’n situasie met die Covid-19-pandemie en die maatskappy wat ’n verlies gaan ly.

“Uiteindelik bied iemand aan om te help.

“Dit is ’n vreemde er­varing, want daar is baie skeptisisme. Ek kan maar net my bes probeer.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters